Rolstoel-atlete benodig dringend hulp

Foto van die deelnemers tydens George OCC 2014 Foto: Facebook (https://www.facebook.com/events/783787888337155/?fref=ts)

Foto van die deelnemers tydens George OCC 2014 Foto: Facebook

ʼn Groep van 40 gestremde persone van die Weskus wat graag hierdie naweek aan die Outeniqua Rolstoel-marathon in George in die Wes-Kaap wil deelneem, benodig finansiële hulp vir hul verblyfreëlings.

Die Outeniqua Rolstoel-wedren, beter bekend as OCC, vind vanjaar op 21 Februarie plaas. Ongeveer 1 000 deelnemers van Suid-Afrika en minstens agt verskillende lande neem aan dié uitdaging deel. Atlete kan kies om die 42.2 km, 21.1 km, 10 km of 5 km af te lê. Klik hier om meer te lees.

Volgens Ansie Swart, wedrenorganiseerder, kan die groep uit die Weskus moontlik nie vanjaar aan die wedren deelneem nie, aangesien hulle steeds geld benodig vir ʼn gedeelte van die vervoerkoste en die verblyfreëlings. “Ons dek ʼn gedeelte van die vervoerkoste vir die atlete,” het sy gesê. Die organiseerders probeer so ver as moontlik om alle atlete van dwarsoor die land die geleentheid te bied om deel te neem.

“Dit is meer as net ʼn wedren, dit is ʼn absolute belewenis,” het Swart bygevoeg. “Dit is die enigste wedren van sy soort in Afrika. Meeste atlete neem die eerste jaar dalk deel aan die pret-wedren, maar hulle sien dalk ander persone lê 10 km af. Of ʼn jong seun of meisie sien dalk hoe ander atlete die halfmarathon of marathon aflê.” Sy het gesê dit bied hierdie kinders die geleentheid om met die atlete te gesels en te hoor hoe hulle begin het, en dit sal hulle dalk self aanspoor om volgende jaar ʼn langer afstand aan te durf.

“Die grootste uitgawe wat nog uitstaande is vir die groep uit die Weskus is die verblyfreëlings,” het sy bygevoeg. “En die groep is ook verantwoordelik vir een aandete Saterdagaand en hul padkos.” Die res van die etes word deur die organiseerders verskaf.

“Dit is so ʼn spesiale geleentheid,” het Swart gesê. “Die deelnemers sien ons atlete uit Zimbabwe en Ghana wat deelneem, en selfs Kenny Herriot van die Verenigde Koninkryk en atlete uit Spanje. Dit herstel hul waardigheid, dit laat hulle deel voel van ʼn groep.”

George se hoofstrate word gesluit vir die geleentheid en ondersteuners help die atlete in die pret-wedren.

“Vir die meeste van die atlete is dit die eerste keer wat hulle aan die OCC sal deelneem,” het Riaan Cleophas, uitvoerende hoof van die Weskus-vereniging vir mense met spesiale behoeftes, Donderdag aan Maroela Media gesê. “Meeste van die groep kom uit Vredenburg en Saldanha.”

Jo Jacobs, een van die atlete, het aan Maroela Media gesê dit sal ʼn groot teleurstelling vir almal wees indien die groep nie aan die wedren kan deelneem nie. Sy het gesê meeste van die groep beplan om aan die pret-wedren deelneem.

Indien jy ʼn bydrae kan lewer vir hierdie atlete, stuur gerus ʼn e-pos aan [email protected] en ons sal jou dadelik in kontak bring met die vereniging en die wedrenorganiseerders.

Die OCC het in 2002 vir die eerste keer plaasgevind en is ʼn jaarlikse instelling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.