Rolstoel kelder nie dié jongman se drome

Furlo Theron van Abbotsdale en sy arbeidsterapeut Hilletje Wiehahn is nou vennote in hul klere- en hulpmiddelreeks vir gestremde persone. (Foto: Verskaf)

Om uit ʼn belowende beroep uit in ʼn hospitaalbed te beland met ʼn diagnose wat geen 30-jarige ooit sal wil hoor nie, is reeds ʼn reusagtige uitdaging. Om daarna terug te bons en jou lewensdoelwitte een vir een te begin afmerk, verg 100% karakter. Furlo Theron gesels oor sy ondervindinge met Sarie Marais-Nell.

Toe Furlo Theron van Abbotsdale in die Swartland op ʼn koue wintersdag in 2016 weens ʼn rugbybesering van die veld gedra is, het dit tot ʼn skokkende diagnose gelei: Hy is van sy borskas af ondertoe verlam, en het gevolglik geen gebruik van sy arms en bene nie. Sy hospitaallêer beskryf hom as ʼn “kwadrupleeg”.

Al kan mens boeke vol skryf oor hoe sleg daardie volgende maande vir Furlo en sy familie was, verkies hulle deesdae om op die positiewe te fokus. “Goeie vriende, mense van die Chris Burger Petro Jackson-spelersfonds en verskeie terapeute het ons ondersteun en deurgedra.

“Iewers tydens al die aanpassings en rehabilitasieproses deur het ek besef hoeveel voordele ek wel ontvang omdat die spelersfonds ons gehelp het met ʼn spesiale bed, elektriese rolstoel en geld om ons huis te vergroot. ʼn Rolstoel binne die huis vereis ekstra bewegingsruimte en die gewone huishouding sou maar sukkel om al daardie geriewe en omskakelings self te betaal.”

Tog bly dit ʼn lewenswaarheid dat ʼn silwer randjie hóé mooi rondom onweerswolke kan skyn, maar binne-in daardie donker wolk moes Furlo eers self deur al die fases van rou en verliese stoei.

Danksy volgehoue fisio- en arbeidsterapie het Furlo die gedeeltelike gebruik van sy arms en hande herwin. “ʼn Mens mik heeltyd om groter onafhanklikheid te bereik, om meer dinge self te doen. Dit was ʼn wonderlike dag toe ek weer self op my tablet en selfoon kon begin tik!

“Intussen sukkel ek heeltyd om die regte broeke te kry. Omdat ek van ʼn kateter afhanklik is, was die keuse soggens tussen ʼn té groot broek (sodat daar plek is vir die kateter), of ʼn nat broek wanneer ek my gewone broeke dra – want dan vou die pypie so graag dubbeld.”

Daar was trane van vreugde dié dag toe Furlo weer self kon skryf. (Foto: Verskaf)

Elke keer wanneer die ongemaklike klere pla, het Furlo en Hilletje Wiehahn, sy arbeidsterapeut wat hom sedert die ongeluk deur dik en dun bystaan, vir mekaar vertel hulle moet hul eie klerereeks vir gestremde persone skep.

“Dan droom ons van klere wat by my spesifieke behoeftes pas, en ons vertel mekaar daar moet humoristiese sêgoed op die tops wees – ons almal kort ʼn bietjie humor!

“Tydens 2020 se streng inperkingsweke het ek en Hilletje vir mekaar gesê die tyd om die klere- en hulpmiddelreeks te laat realiseer, is nóú! Sy werk reeds 30 jaar as arbeidsterapeut en met haar kennis van gestremde persone se behoeftes wat elkeen van mekaar verskil, het ek en Hilletje ʼn jaar later as vennote ons aanlyn winkel, Grace Adapted Clothes and Aid, geloods.

“Weer eens het die Chris Burger Petro Jackson-spelersfonds gehelp toe hulle van ons planne hoor. Só kon ek ʼn goeie rekenaar kry en aanlyn by die Universiteit van Kaapstad klasloop. Deesdae is al die administrasie vir ons klere- en hulpmiddelreeks my werk.

“Grace Adapted Clothes and Aid se T-hemde, kappiebaadjies (hoodies) en langmouhempies is baie gewild! Ons langbroeke maak teen die sykante oop en dis swart of vlootblou, juis om verleenthede soos nat kolle minder sigbaar te maak. As ons dalk ʼn item nie dadelik kan verskaf nie, doen ons baie moeite om dit op te spoor.”

Daar is veel meer as net klere op hul webwerf te sien, verduidelik Hilletje. “Ons verkoop ook rolstoele, verskeie soorte kussings om druksere te voorkom, handskoene en spalkies volgens individuele behoeftes, frokkies wat op die skouers of langs die sye oopmaak – en dis maar ʼn fraksie van ons produkte. Ons broeke het geen agterste nate nie, om die gevaar van druksere uit te skakel.

Hilletje se drie seuns Okkie, Fred en Hugo het vinnig deel van Furlo se ondersteunerspan geraak. (Foto: Verskaf)

“Ons klere en hulpmiddels word plaaslik ter wille van werkskepping in ons omgewing vervaardig. Elke produk is van goeie gehalte en bekostigbaar.

“Furlo is ʼn merkwaardige mens,” sê Hilletje. “Sy humor en positiewe ingesteldheid maak ʼn reusebydrae in sy rehabilitasie.

“Ons het al saam deur baie oppe en affe gewerk, saam van vreugde gehuil toe hy die eerste keer weer kon skryf, en nou hanteer hy ons besigheid se administrasie.

“Hy leef nooit bakhand nie en ploeg ook terug in die gemeenskap. Op nasionale strikkiedag, ten bate van gestremdes, het hy hope strikkies verkoop en die fondse tussen Malmesbury se sentrum vir gestremde persone en die Chris Burger-spelersfonds verdeel – hy is ʼn ware rolmodel.

“Gestremdheid kos baie geld. Min mense besef hóé duur dit raak en hoe uniek elke gestremde persoon se behoeftes is. Een tipe rolstoel of kussing werk nie vir almal nie, en kundige raad voor aankope is beslis belangrik.”

Vir Furlo (35) is hierdie klerereeks ʼn belangrike item op sy lewenswenslys. ʼn Ander doel is om druksere te voorkom, so ook sy begeerte om aan TV-programme deel te neem. Saam met twee vriende uit sy kaalvoetjare het hy pas aan ʼn Via-produksie, Slim vang sy Baas, deelgeneem – hierdie vasvraprogram word juis op Vrydag 25 Februarie uitgesaai.

Spalkies en hulpmiddels wat die lewe van mense met gestremdhede vergemaklik, is nou te aanlyn te koop by Grace Adapted Clothes and Aid. (Foto: Verskaf)

“Ons spannaam was Grace, en ons het in Grace Adapted-T-hemde deelgeneem. Ek voel altyd so gekoester en geliefd as vriende my daadwerklik help en ondersteun, tot ek begin wonder of hulle dalk net hierin is vir die spesiale parkeerplek,” terg hy met sy tipiese humorsin.

Intussen tel hy al sy suksesse sedert sy ongeluk op meer as een hand: Die vryheid om self sy selfoon, rekenaar en die TV se afstandbeheer te kan gebruik, om self sy gesig te was en tande te borsel, die feit dat hy die agterdeur kan oopmaak. “Ek waardeer elke klein dingetjie wat ek self kan doen, al is hier redelik baie hande om my te help, en al sê my suster se tweejarige dogtertjie dat ‘Boeta se hande gebreek het’.

“Ek was altyd ʼn positiewe mens; my beker was altyd halfvol. Maar dit het tyd en harde werk gekos om weer my positiewe geaardheid terug te kry.”

  • Hilletje gee gereeld raad oor hulpmiddels en adviseer maatskappye wanneer hulle nuwe geboue vir gestremde persone inrig. Sy raai almal aan wat met gestremdhede saamleef om lid te raak van QuadPara Association of South Africa (QASA), die nasionale vereniging wat die belange van Suid-Afrika se kwadrupleë en parapleë bevorder.
  • Loer gerus na die webwerwe van Grace Adapted Clothing and Aid by www.clothesandaidfordisabled.com en [email protected], of kontak die QuadPara Association of South Africa (QASA) by [email protected].

Voorbeeld van die T-hemde. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Christine ·

Dis so hartseer en jammer dat jy hierdeur moes gaan, jongman. Dis wonderlik dat daar soveel engele in ons land is wat nog bydraes maak. Baie. Baie sterkte vir die toekoms en ek hoop op nog groter verbetering vir jou gesondheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.