Rommelstatus: ‘Zuma moet waai’ sê ekonoom

rand-ekonomie-suid-afrika

Argieffoto

Die maklikste en vinnigste manier vir Suid-Afrika om rommelstatus te probeer verhoed, is om ontslae te raak van pres. Jacob Zuma.

Dit is die mening van Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group, nadat die kredietgraderingsagentskap Standard & Poor’s (S&P), Suid-Afrika se buitelandse valutakredietgradering van BBB van stabiel na negatief hersien het. Roodt het gesê daar is sonder enige twyfel groot rede tot kommer.

“Dit is nodig om nou baie sterk op te tree, maar wat ons moet doen is polities baie moeilik. Die staatsdiens moet effektiewer wees, korrupsie moet beperk word, arbeidswetgewing moet aangepas word. Alles moet gedoen word, maar dit word eenvoudig nie gedoen nie weens politiekery.

“Sommige lede van die kabinet is sonder twyfel baie bewus van wat aan die gebeur is. Ander lede is egter nie so bewus daarvan nie, soos ons agbare president wie se klem heeltemal op ʼn ander plek lê en nie noodwendig by die welsyn van die land nie. Sy termyn is gekenmerk deur amper elke denkbare ding wat verkeerd gegaan het in Suid-Afrika,” het Roodt gesê.

Gerhard van Onselen, ’n navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut, het gesê dat die laer kredietgraderings nie ’n verrassing is nie. Regeringskuld het oor die afgelope paar jaar voortdurend bly groei, terwyl die volhoubaarheid van staatsfinansies bly verswak, het hy gesê. “Sedert die ekonomiese resessie van die laat-2000’s, word die regering se begroting gekenmerk deur fiskale tekorte, ’n gepoogde ‘teen-sikliese beleid’, aansienlike maatskaplike oordragte en sekere hoogs twyfelagtige grootskaalse, staatsgedrewe kapitaalprojekte. Hierdie toedrag van sake gaan bepaald voortduur.”

Die impak van die afgradering

Volgens Lullu Krugel, ʼn ekonoom by KPMG, is die maklikste manier om die impak van die afgradering te verduidelik, om Suid-Afrika te vergelyk met ʼn individu wie se kredietwaardigheid bepaal word.

“Wanneer iemand se kredietwaardigheid sleg is, sal hy sukkel om ʼn lening of finansiering te kry en indien wel, teen ʼn baie hoë rentekoers. Die BBB- gradering beteken basies dat die graderingsagentskappe vir die res van die wêreld sê hulle moet versigtig wees om geld aan Suid-Afrika te leen en indien hulle dit wel doen, moet hulle ʼn hoë rentekoers vra omdat Suid-Afrika ʼn hoë risiko is.”

Krugel het verder gesê die afgradering het dus ʼn direkte impak op Suid-Afrika se vermoë om skuld aan te gaan, wat beteken dit sal vir die land nog moeiliker wees om uitbreidings en infrastruktuur te finansier. Skuld sal ook terugbetaal word teen hoër rentekoerse, wat mettertyd elders in die ekonomie sigbaar sal word.

“Ons sal nie onmiddellik die effek van die afgradering sien in byvoorbeeld rentekoerse wat die hoogte in skiet nie, maar dit sal met verloop van tyd in ander vorme sigbaar word. Omdat die res van die wêreld minder geld aan Suid-Afrika gaan leen en ons baie meer aan ons skuld moet terugbetaal, sal die regering al hoe minder geld hê om te bestee aan infrastruktuur, gesondheidsdienste, onderwys, ensovoorts.

“Die afgradering knou ook sakevertroue, wat tot gevolg het dat sake-eienaars huiwerig is om in hul ondernemings te belê of verder uit te brei, wat weer tot werksverliese kan lei. Uiteindelik sal ons al hoe meer betaal om produkte in te voer, wat sal lei tot ʼn verhoging in kos- en kruidenierspryse.”

Volgens dr. Roelof Botha, ʼn ekonomiese raadgewer vir PwC, was daar geen rede vir dié afgradering. Hy meen die redes wat vir die afgradering aangevoer is, is nie objektief nie. “Kredietgraderingsagentskappe sit dikwels die pot mis omdat voldoende navorsing nie gedoen word nie. Hulle navorsing is oppervlakkig omdat hulle net na negatiewe faktore kyk.”

Die kredietgraderingsagentskappe het verskeie redes vir die afgradering gegee en dr. Botha het gesê een ding waarmee hy wel saam stem, is dat die Nasionale Ontwikkelingsplan nie geïmplementeer word nie. “Dit behoort vir die regering ʼn wekroep te wees om harder hieraan te werk.”

Duister toekoms

Van Onselen waarsku dat die Suid-Afrikaanse ekonomie ʼn kruispad bereik het.  “Die ongunstige ekonomiese vooruitsigte kan omgekeer word as die regering werklike hervorming aanvaar om belegging en besigheidsaktiwiteit te versterk. Sonder ’n ommekeer van die huidige situasie sal die voortdurende verswakking van staatsfinansies ’n krisisvlak bereik wat tot nadeel van alle mense in Suid-Afrika sal strek.”

Volgens Botha is daar hoop, maar dit gaan afhang van hoe die internasionale markte gaan reageer. “Die markte luister nie altyd vir die kredietgraderingsagentskappe nie. Wanneer ʼn land se kredietgradering tot rommelstatus afgeskaal word, beteken dit eintlik daar is ʼn moontlikheid dat die land se regering bankrot kan gaan. As ʼn land rommelstatus bereik, begin die gevaarligte flits.” Botha het gesê dié kredietstatus kan konserwatiewe beleggers afskrik.

Roodt het gesê hy is bevrees Suid-Afrika gaan wel sogenaamde rommelstatus bereik. “Dit het ons baie jare en harde werk gevat om vir Suid-Afrika ʼn behoorlike beleggingsgradering te kry. Binne ʼn kwessie van vyf jaar is 15 jaar se harde werk tot niet gemaak. As ons rommelstatus bereik, sal dit seker 10 jaar vat om terug te keer na beleggingstatus.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

34 Kommentare

Wikus ·

Die ANC sal nie van Zuma ontslae raak nie want dan is die party verby.

arie plaasboer ·

Wikus (en ander enersgestemdes)
Ek het vir die RSG program op Sondae “die Week in Oensou” bykans `n jaargelede geargumenteer dat Zuma in `n staat van bekuldiging ” (Impeachment) geplaas moet word, maar my argumente is in twee worrde deur Prof Andre Duvenage afgemaak dat ek die pot mis sit.

NB: Dit is nie lasterlik nie – dit het werklik gebeur. Ek het na die betrokke program geluister.

Almal stem deesdae saam dat Zuma die land in die afgrond in regeer het. Dit is in stryd met sy eed van getrouheid wat hy met sy ampsbekleding (soos voorgeskryf deur die grondwet van RSA) afgele het met die hele volk as getuies.
Is dit NOU die tyd om hom in `n staat van beskuldiging te plaas?
Ek vra maar net

Meisie ·

Nou ja hulle sal dit maar net weer op apartheid pak!!!! Die huidige regering, en veral nie die president nie, sal mos nooit verantwoordelikheid daarvoor aanvaar nie.

Chrisna Botha ·

Nog n bietjie slaap,,nog n bietjie sluimer….. word wakker, mnr die President!!

alida ·

Dit het hulle baie lank gevat om uit te vind dat hy rommel is en die land in die verderf in regeer het. Raak so gou as moontlik van hom ontslae en kla hom aan op al die aanklagte teen hom !!!

Sumari ·

Al manier om van hom ontslae te raak is as iemand hom laat verdwyn. As daai dag aanbreek hou ek beslis ‘n party.

Johann Marx ·

20 jaar terug kon ek my huis en eiendom verkoop, en Australië toe verhuis en min of meer dieselfde tipe huis koop in ‘n gemiddelde woonbuurt. 20 jaar van ANC regering en ek moet nou SEWE huise soos myne verkoop EN ‘n miljoen inbetaal……..om EEN huis soos myne in ‘n gemiddelde woonbuurt in Aus te koop. Ek kan myself skop dat ek nie 20 jaar terug geluister het, en gegaan het nie…..Nou’s ek verarm, en vasgevang in ‘n “vreemde” land.

Ben ☺☺☺ ·

Ja julle slim outjies en vroutjies – met wie replace ons hom ???

Gerhardt ·

Maloetsi Mkbeki, Naledi Pandor, Bheki Cele, Zweli Mkhize ag eintlik enigiemnad sal beter wees. Net nie Roelof Botha wat familie van Pik is nie.

M ·

Stem saam jou Ben. Hy gaan maar net replace word met die volgende onbevoegde persoon indien nie meer onbevoeg nie!!!!!! Ons kan maar net nie wen nie, maak nie saak watter kant toe dit gaan nie. Hierdie land is ‘n sinkende skip of ons dit wil weet of nie. Dinge lyk al hoe bleker. Soos hierdie mense kan geld mors is skrikwekkend , maar hulle sien dit nie so nie. Hulle sien dit as hulle reg.

Paul ·

Die segswyse “dinge lyk bleek” is ‘n direkte anglisisme vanaf “the future looks bleak”. Die korrekte Afrikaans is “dinge lyk sleg”.

Bloues ·

Danie Paul. Dit is sommer nou n baie insiggewende repliek wat jy gelewer het. Eish ja

Paul ·

Dis nie nodig om alle foute te korrigeer indien een fout uitgewys word nie. Dit is ook geoorloof om nie slegs op die spesifieke onderwerp van ‘n artikel kommentaar te lewer nie.

Wanneer taal-raad gegee word, is dit ‘n poging tot hulp, nie ‘n afjak nie. Hoe anders kan iemand leer? Ek is persoonlik altyd dankbaar indien iemand my op ‘n taalfout wys, want dan kan ek mos verbeter.

Hein ·

Elke vier jaar verkiesing help nie. Die minderhede kan hom nie uitstem nie en die enigste oplossing is om met burgerregte groepe druk toe te pas op die regering. Hoe plaas druk toe? Enige voorstelle? Solidariteit se Plan B is ‘n begin.

Winston ·

Ons het dit gesien kom, maar helaas het die hoop bly bestaan dat dit sal verbeter. Hoe naief kan mens wees. Die enigste oorlewing en opstaan uit die as, is n volkstaat. Daar kan ons weer wapens vervaardig om ons soewereiniteit soos Israel te beskerm en aan n ekonomie begin werk van voor af. Jammer die hele volk dink nie so nie. Daar is die wat nog wonder wat aan die gebeur is.

GES ·

Dit klink soos musiek in my ore. Ek dink nie daar is ‘n ander oplossing nie. Om so aan te gaan gaan is nie ‘n opsie nie.

DAAN ·

Die regering en hulle maats eet lekker, werk lekker , slaap lekker en ry lekker met hulle spog motore. Alles is net lekker. Kyk na Eskom, Prasa, SAUK en nog meer. Hulle vat geen verantwoordelik nie , want alles is net lekker.As kos moet in gevoer word kry hulle nie swaar nie, dis die ander wat swaar kry. Alles is net lekker.

Herman ·

Dit is te lekka op die soustrein, hy gaan nie af
klim nie al val alles uitmekaar en sy opvolger gaan net so onbevoeg wees.

TTh ·

Zuma was ‘n beeswagter, miskien moet ons nou kyk vir ‘n skaapwagter, wat van ‘n toordokter, SA is klaar ‘n rommelhoop. Enige iets is beter as die ANC/SAKP maar nie einge iets is ons oplossing vir Vryheid en Vrede nie.

Ettiene ·

Solank die klomp wat aanbewind is nie afsien van die houding van die land skuld hulle nie. Sal daar nooit vooruitgang wees, as jy in n mags posisies is, is dit jou reg om te steel, en nikes sal met jou gebeur nie. Die komrades kyk na mekaar, of blameer apartheid!!!!!

Johnnie ·

Malema het gesorg dat zuma inkom so wees vir malema kwaad

BoereBikerBaby ·

Zuma is die grootste Rommel… en ja hy moet waai. ek stem 100000% saam. Kry Koning Goodwill Zwelitini in sy plek.. hehe

Muller ·

Wonder wat nou weer fout was met my kommentaar, dat Maroela dit weereens nie plaas nie. Dink mens moet eerder net stil bly!

PJ ·

Al hierdie Rodmell status en goed beteken niks vir zuma nie hy het nie n “clue”wat dit beteken nie hy dink dit is iets wat n mens nie kan eet nie (Rommel status )

Theo ·

Julle almal hierbo is 110% reg met jul kommentaar. Ons praat en se dit al van voor 1994 vir mekaar van wat nou aan die gebeur is. Ons het dit geweet. My vraag is: Wat kan ons gewone mense doen om onself, mekaar en die arm mense te help want die toekoms lyk bleek? Ons moet nou iets doen. Is daar iemand daarbuite wat sinvolle raad kan gee oor die pad vorentoe?

Marius Buys ·

Hoe vinniger SA rommelstatus bereik hoe vinniger sal die ANC ophou om stemme te koop om hulle aan bewind te hou. As die geld opdroog sal die rotte vinnig die sinkende skip verlaat.

Johannes Meintjes ·

Die hele ekonomiese situasie versleg ook die reeds-vervalle lot van die man en vrou op die grond in en om SA. Internasionaal lyk dit asof kenner nie meer verbaas is oor Zuma en die ANC se onbekwaamheid en ondeurdagte “regeringsstyl” nie. Die grootste probleem, myns insiens, is dat die burgery als maar verblind, gelate en sinies aanvaar, in plaas daarvan om tussentydse sosio-ekonomiese alternatiewe te bewerkstellig of met verantwoordelikheid af te dwing.

Rietrot ·

My raad is dat almal kan bid dat mense se harte verander. Dit is al wat ons kan doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.