Rondloperleeu nog nie gevang

Die leeu is Woensdag langs die R511 gewaar. (Foto: Twitter)

Die soektog na die rondloperleeu in Centurion sal Donderdagoggend voortgesit word nadat dié dier teen Woensdagaand nog steeds nie gevang en verdoof kon word nie.

Arthur Crewe, eienaar van die maatskappy Strategic Response Rescue Unit (SRU), het aan Maroela Media gesê dat reddingspanne tot laat Woensdagaand nog na die leeu gesoek het in die omgewing waar die dier Woensdagmiddag gevind is.

Soekspanne het deur die nag nog met hommeltuie en in die lig van die volmaan gesoek, maar dit is teen middernag afgelas.

“Ons gaan nou bymekaarkom en kyk of ons ʼn helikopter kan inspan,” het Crewe Donderdagoggend aan Maroela Media gesê.

Hy was Woensdagmiddag hoopvol dat die leeu gevang en verdoof sou word nadat hulle die groot kat in ʼn geïsoleerde gebied tussen bosse in die omgewing van die Hennops-staproete gevind het.

ʼn Veearts is van Hartbeespoort, waar SRU geleë is, ontbied om die leeu veilig te verdoof indien die reddingspan naby genoeg aan die leeu kon kom.

Crewe is ook die stasiebevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut in Hartbeespoort.

Sy maatskappy het Woensdag ingegryp nadat ʼn rondloperleeu omstreeks 02:00 langs die R511 in Centurion naby die Hennops-staproete opgemerk is. Hoewel die maatskappy al die toepaslike owerhede van die rondloperleeu ingelig het, het net een private sekerheidsmaatskappy by die soektog aangesluit.

Dit is nog steeds nie bekend waar die leeu vandaan kom nie.

Die omgewing waar die leeu laaste gesien is, is nie naby mense of huise geleë nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

annie ·

Mense in die buiteland wat altyd geglo het dat leeus orals selfs in stede rondloop, is deesdae reg. Die wildernis neem oor. Veiligheid raak ‘n skaars entiteit en dit kos. Die lig van die beskawing is aan die wyk. Om te vlug vir jou lewe raak algemeen.

TruthDealer ·

Snaaks genoeg sê my seun se pa vroeg vanoggend dieselfde ding: Die miskonsepsie wat oorsese mense gehad het, is wraggies besig om waar te word.

Nuustak ·

Rondloper leeu in Centurion, buffels in Kempton Park… Wilder as die wildtuin

Sonblom ·

Ek vra net moet asb nie die leeu skiet nie. GROOT ASB. Mense moet verantwoordelikheid vat en beter omsien na hierdie diere waar hulle aangehou word. Diere doen wat in hulle natuur is.

Sê maar net ·

Hoekom sit hulle nie vleis uit vir die leeu nie? Dis seker al so honger. Terwyl dit vreet kan dit verdoof word en veilig vervoer word na ‘n reservaat.
Weet nie hoe hulle koppe werk nie….Nou spandeer hulle duisende rande met helikopters.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.