Rondloperleeu: Onverwagse hulp op pad Karoo toe

Argieffoto: Designerpoint, Pixabay

Die transitovervoermaatskappy Bidvest Protea Coin het Vrydag ʼn gespesialiseerde span uit Gauteng na die Karoo gestuur om te help soek na die rondloperleeu wat verlede maand uit die Karoo Nasionale Park in Beaufort-Wes in die Wes-Kaap ontsnap het.

Waal de Waal, bedryfshoof van Bidvest Protea Coin, het gesê hoewel “dit nie is wat [Bidvest Protea Coin] doen nie, is ons gretig om te help weens die unieke omstandighede van die saak, ons liefde vir diere en bewaring en ook omdat ons gespesialiseerde toerusting perfek [daarvoor] geskik is”.

De Waal verduidelik dat dié maatskappy oor een van slegs twee helikopters in die land beskik wat toegerus is met infrarooi-kameras wat die vlieënier van die helikopter toelaat om snags hitte-aanduidings in ʼn radius van tien kilometer op te tel.

ʼn Span van vier het vroeg vanoggend uit Centurion vertrek en sou na verwagting teen middagete se koers reeds verby Fraserburg in die Karoo wees, sê De Waal.

Dié span sal met hul aankoms vir Nico van der Walt, die parkbestuurder, sy veldwagters en spoorsnyers ontmoet om ʼn plan van aksie te bespreek. Die Bidvest-span bring ook ʼn spoorsnyer saam wat hulp sal verleen.

Volgens De Waal is hierdie span vir die volgende drie dae en nagte tot die park se beskikking.

Hy het gesê Saterdag sal ‘n hommeltuig ook ingespan word wat ook toegerus is om in die nag te vlieg.

De Waal het verder gesê hy hoop dat die kombinasie van hulpbronne sal help om die veldwagters op die grond nader aan die leeu te kry. “Ons is gelukkig om Suid-Afrikaanse Nasionale Parke teen geen koste te help met die hoop dat ons ’n klein rol sal kan speel om ’n gelukkige uitkoms met die leeu se terugkeer na die Karoo Nasionale Park te kry,” het De Waal gesê.

Van der Walt het gesê dié tegnologie is welkom. “As die lugspan die leeu oornag kan opspoor en ʼn oog oor hom hou terwyl die grondspan rus, sal ons ʼn baie beter idee hê van waar die soektog die volgende oggend moet voortgaan. Dit sal ons ’n voorsprong bo die leeu gee wat ons nie gehad het nie.”

Die soekgeselskap het intussen die leeu se spoor vanoggend sowat 110 km in ’n noordwestelike rigting van die park opgemerk. Die span bestaan ​​tans uit talle veldwagters en spoorsnyers van die Addo Nasionale Olifantpark, Camdeboo‑ en Mountain Zebra- nasionale park in die Oos-Kaap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Johan ·

As daai leeu n bordjie sien “Kaapstad 20” man by maar omdraai…hys ferm op pad Kaap toe

Maria ·

werk vir travelpayment se dankie aan De Waal Bidvest Protea Coin

Ag ·

Plaas asb die leeu in n ander park wanneer julle hom kry, dit lyk nie of leeus gelukkig is in die Karoo Nasionale Park nie, dis mos die tweede leeu wat daarvan gevlug het?

Cherokee ·

Weer is die titel van die berig misleidend. “Rondloperleeu – onverwagse hulp…”
Ek het gejuig, gelag, ‘n Three Ships geskink en verder gelees, net om dan te lees die ‘onverwagse hulp’ is nie vir Skim die Leeu nie, maar vir opspoorders:-(

tg ·

ek dink die probleem is by die vroutjie leeus.

n anderse vrou kan enige man verdryf

Lizelda ·

TG ekt nou lekker gelag v jou kommentaar. Dis seker maar waar ons kan n man d bosse laat invaar hahaha.

Oom Jaco ·

In die ou dae het die polisie ook sulke kameras op hulle helikopters gehad…

Jepetto ·

Hierdie leeu het n ou al Sylwester re rekord gebreek hy is nou al 2 keer so lank op vrye poot as Sylwester

Veritas ·

Ek ken ‘n paar jagters wat gratis sal help om die ou vuilbaard op te spoor en vankant te maak.

Cherokee ·

Wat jy eintlik bedoel Veritas, is as dìt die enigste manier is waarmee jy terugvoering kan verseker, dan doen jy dit.

Elsa ·

Maggies Veritas, is jy ook een van dié met geen liefde vir die natuur nie en net altyd alles wil doodmaak?

jean ·

Veritas…..gaan skiet ‘n kat want dis soos ek voel as ek sulke kommentaar lees!

Ons bly hoop dat Mufasa (soos in Die Burger) veilig sal wees en dat die manne sal kophou….

Bly om ‘n foto van ‘n “lewendige” leeu te sien!

Ampie ·

Net een van twee met infra Rooi in die land. Asb . Waal, almal is nie van die Wal af nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.