Rondloperleeu ‘teen dié tyd weer honger’

Argieffoto. Foto: SANParks

Die rondloperleeu wat verlede maand uit die Karoo Nasionale Park naby Beaufort-Wes in die Wes-Kaap ontsnap het, het in die afgelope week nog nie weer prooi platgetrek nie en behoort teen dié tyd weer honger te wees.

Só sê Reynold Thakuli, woordvoerder van SANParke.

Die leeumannetjie het sowat tien dae gelede ʼn eland op ʼn plaas aangrensend aan die park gevang. Sedertdien is daar egter nog geen oorskot van ander prooi in die gebied aangetref nie.

Volgens Thakuli sou tekens van nog prooi in die soekgeselskap se guns kon tel en help om op die leeu se spoor te bly.

Spoorsnyers het wel gister nuwe inligting ontvang oor waar die leeu hom mag bevind. Thakuli vertel dat ʼn vars spoor op ʼn plaas, sowat 60 km van die park, in ʼn noordelike rigting opgemerk is.

Dié plaas is in die teenoorgestelde rigting van die dorp geleë, bevestig Thakuli.

Spoorsnyers het die omgewing tot ná donker gefynkam waarna die soektog vanoggend hervat is. ʼn Veearts loop tans saam op die spoor ingeval hulle die dier opspoor en die geleentheid kry om die leeu te verdoof.

Spoorsnyers meen op grond van die enkele oomblikke wat hulle die rondloperleeu onder oë gehad het dat dié leeu ʼn twee en ʼn half jaar oue mannetjie is.

Maroela Media het vroeër berig die leeu het op 15 Februarie uit die park ontsnap nadat swaar reënval veroorsaak het dat grond onder die heining weggespoel het. Die leeu het glo onderdeur die heining gekruip.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

KP ·

Wonder maar net kan hulle nie vir hom vars karkas uitsit en dit dophou om hom miskien te lok nie?? Leeu se reuksintuig is mos baie skerp.

HPV ·

Maak jag oop vir jagters en boere op die leeu. Die dier is ‘n bedreiging vir mense en is nie ‘n bedreigde spesie nie. Hoe hongerder hoe gevaarliker, of moet dit eers ‘n mens dood? Jagters sny spoor en jag ook op hul eie koste, jaggewere is ook meer doeltreffend as “dart”gewere oor lang afstande.

Gys ·

Ek jy dink die boere gaan wild vreemdelinge sommer so op hul plase toelaat?
Daar is geen manier wat ek sommer enige jan rap en sy maat met gewere op my plaas sou toelaat nie. Netnou skiet hulle van my ander vee of wild en bly stil daaroor.

Ellisras ·

Lees gerus Herman Charles Bosman se : In the Withaaks shade.
Waar hy sê almal weet ‘n koei is nie so klein dat jy regop hoef te staan om dit te sien nie. Toe die Luiperd kom kuier het. Jy sal dit geniet. En almal weet ‘n leeu is nie so klein dat jy sukkel om hom te sien nie.

Willa ·

My man is die veearts. Hou duim vas, het sy spoor gekry en is oppad met helikopter om vir Juluis te dart. Hopelik kry hul hom vanmiddag, want dis nou al 2 weke se soektog! !!

humor ·

Verstaan nie. Destyds het het RSA en SWA troepe onder die moeilikste omstandighede terriespore gevolg en was baie suksesvol. Hulle het dit met spronge gedoen en die area is geleidelik van weerskante kleiner getrek. Miskien kort julle n paar van hulle.

Hannes ·

Selfs die luiste en slegste leeu is miljoene kere meer uitgeslape as die beste terroris of spesmagte ou.

Cherokee ·

Het julle gesê die Skim gaan hulle ontwyk. Gaan jou goed Skim! :-)

jean ·

Seker self ‘n jagter ne HPV!….Makliker om uit te wis as om te bewaar. Willa…hoop manlief doen goeie werk en dat daar nie oordosis sal wees vir vinnige oplossing nie!. Lees dat dit maar’n jong leeumannetjie is, so gee die ou ‘n kans?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.