Rondloperleeu trek eland plat

Argieffoto. Foto: SANParks

Die soekgeselskap op die spoor van ʼn rondloperleeu wat Vrydag uit die Karoo Nasionale Park naby Beaufort-Wes in die Wes-Kaap ontsnap het, kon Dinsdagmiddag uiteindelik ’n teken van die leeu se bewegings kry nadat hulle op die oorskot van die leeu se prooi afgekom het.

Die leeu het ʼn eland op ʼn plaas aangrensend aan die park gevang, vyf dae nadat hy onder ʼn heining uit die park ontsnap het.

Volgens Nico van der Walt, bestuurder van die Karoo Nasionale Park, het 14 wildbewaarders en ses vrywilligers van naburige plase gister heeldag na die leeu gesoek toe hul eindelik teen die middag op die leeu se vangs afgekom het.

Reynold Thakhuli, woordvoerder van SANParke, het Maandag aan Maroela Media verduidelik die soektog word bemoeilik deur die feit dat die leeu teen daardie tyd nog nie prooi in die gebied doodgemaak het nie. Dit sou die span in die regte rigting kon stuur.

Volgens Van der Walt verhoog die groot hoeveelheid van die karkas wat opgevreet is, spoorsnyers se kanse om die leeu op te spoor. “’n Leeu met ’n vol maag sal waarskynlik vir ʼn rukkie slaap. Dit sal tot ons voordeel strek en ons tyd gee om die leeu op te spoor,” verduidelik hy.

Die soekgeselskap het gister die rondloperleeu se spoor tot sowat 11,8 kilometer vanaf die park tot sonsonder gevolg.

Die soektog na die leeu is vanoggend teen sonsopkoms hervat.

Maroela Media het vroeër berig die leeu het Vrydag onder deur ʼn heining van die park ontsnap nadat swaar reënval veroorsaak het dat grond onder die heining weggespoel het. ʼn Eskomwerker het die dier in die Molteno-pas gewaar waarna met  ʼn soektog binne ʼn radius van 40 km in ʼn oostelike rigting vanaf die park begin is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Duifie ·

Hierdie Snorbaard is n regte André Stander copycat ;-). Voirtvlugtig en ontwykend soos n oroffessionele bankrower. Jammer vir die boer se eland :-(

Heksie ·

Hy was honger … arme leeu … moet hom nou net nie seermaak nie!

Jaco ·

Hulle moet tog asseblief net nie die leeu doodskiet nie. Maak seker julle het verdowingspyle by julle en vang hom so.

nulle ·

Ek dink hulle moet hom los sodat hy self terugkeer vanwaar hy ontsnap het. Ek bedoel hy gaan mos besef dis veel geriefliker en minder pt om die vangwerk vir die girls in sy harem te los.

jean ·

Dit was etenstyd….gelukkig was dit nie ‘n mens anders was die helikopters met gewere in die lug. Hou hom lewendig asb ouens!

Lana ·

Ek sien “Heksie” se naam hier bo.
Noem die leeu sommer “Matewis”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.