Rondloperleeu trek tweede prooi plat

Argieffoto. Foto: SANParks

Die rondloperleeu wat verlede maand uit die Karoo Nasionale Park naby Beaufort-Wes in die Wes-Kaap ontsnap het, het oor die naweek sy tweede prooi op ʼn plaas naby die park gevang.

Dié keer ʼn skaap. Reynold Thakuli, woordvoerder van SANParke, het Donderdag aan Maroela Media gesê dat ʼn boer in die distrik Saterdag die leeu se spoor op sy plaas aangetref het. Die boer het dié spoor gevolg waarna hy op die karkas van een van sy skape afgekom het.

Dít volg nadat Thakuli verlede week voorspel het dat die leeu weer honger behoort te wees nadat hy weke gelede ʼn eland platgetrek het.

Die soekgeselskap op die leeu se spoor is gevolglik na die plaas ontbied waar hulle die spoor van die karkas gevolg het tot waar hulle die spoor by rowwe terrein verloor het.

Volgens Thakuli het die spoorsnyers wat teen dié tyd in skofte werk, oornag by dié plek vertoef met die hoop dat die leeu deur die nag sy verskyning sal maak. Die leeu is egter nog nie weer met ʼn oog gesien nie en die soektog van die afgelope drie weke duur voort.

ʼn Veearts loop tans saam op die spoor in geval hulle die dier teëkom en hy die geleentheid kry om die leeu te verdoof.

Spoorsnyers skat dat die leeu ʼn twee en ʼn half jaar oue mannetjie is.

“Ons bly hoopvol. Ons sal nie rus totdat ons hom gekry het nie,” het Thakuli gesê.

Maroela Media het vroeër berig die leeu het op 15 Februarie uit die park ontsnap nadat swaar reënval veroorsaak het dat grond onder die heining weggespoel het. Die leeu het glo onder die heining deurgekruip.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Stuiwer ·

Hoe lank was Sylvester weg? Ek hoop ook ou “Rambo” breek die record en dat hy lekker stories in die boskroeg kan vertel wanneer hy weer veilig tuis is.

lanie ·

Nou gaan hy seker van kant gemaak word. Arme dier. Moet hom asseblief nie vang nie.

Cherokee ·

Sy naam is Skim. Hy beweeg so onopsigtelik soos die Skim.

jean ·

Kyk, die man moet nou ‘n naam kry….Ek het gedink aan Rambo (Sylvester se fliek!)…maar enigiets sal werk. Nou moet hy net wegbly van die boere se skape want daars niks wat ‘n boer ongelukkiger maak as om van sy vee te verloor…en ons weet wat doen ‘n boer wat kwaad is. Wees net genadig ouens en moenie dat die vingers gly nie!….

Zorro ·

Ek verneem dat hulle die spoor op ‘n teerstraat in Beaufort Wes verloor het.

JohanL ·

Ook gehoor dat hulle die strate goed moes was na al die mense weggehardloop het van die skrik :) :) :) LOL

Kan iemand dit bevestig of nie asb.

Tammy ·

Ja, ek stem, die leeu moet n naam kry, en as dit n mannetjie is, is RAMBO n gepaste naam. Hy verken nou lekker en wil nie mense vang nie, so assblief vat hom terug na die Park toe. Dis waar hy hoort. Ons kry tog almal soms die gevoel om n bietjie te gaan kyk hoe lyk die wereld anderkant ons beperkte omgewing!

Arie ·

Ek wil nie snaaks wees nie maar dis ou nuus hoop nie al julle berigte is so oud nie

Francois le Cochon ·

Moet se^, as ek ook deur die karoo ry, en ek sien die skape so wei, dan water my mond ook.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.