Roodepoort-kaping: ‘Goeie nuus’ vir ma Marilize

Marilize Bright. Foto: Facebook

Marilize Bright. Foto: Facebook

Marilize Bright (34), die ma wat ernstig beseer is ná ʼn mislukte kaping in Roodepoort, Johannesburg, op 15 April, het Dinsdag gesê dat sy goed op dreef is om weer op haar eie te loop.

“Ek sukkel vanoggend met hoofpyn en nekpyn, maar het goeie nuus van die dokter [by die rehabilitasiehospitaal] ontvang. My moon boot (voetstut) is af en ek het my eerste paar treë gegee met die loopring,” het Marilize op die gesin se Facebook-ondersteuningsblad gedeel. “Dit is die begin van loop. Ons Heer is groot en goed vir my.”

Marilize het gesê haar nekstut moet vir eers nog aanbly en dat sy volgende week ʼn roetine-ondersoek by haar dokter in Milpark-hospitaal sal ondergaan. “Dankie vir julle almal se omgee en gebede. Julle is wonderlik, veral my gesin, ouers en familie,” het sy gesê.

Maroela Media het vroeër berig Marilize het op Vrydag 15 April, kort voor 15:00, haar kinders, Damian (7) en Abigail (9), by die Laerskool Horison in Roodepoort gaan oplaai in haar blou Hyundai i20. Sy het daarna haar jongste, Martinique (1), by haar kleuterskool daar naby opgelaai en haar op die passasiersitplek voor in die motor vasgemaak terwyl Damian en Abigail agter gesit het.

Marilize wou net in die motor klim toe die drie kapers haar gegryp, in die kattebak gedruk en weggejaag het. Die verdagte wat bestuur het, het sowat 5 km verder, op ʼn skerp draai, beheer oor die motor verloor en oor ʼn randsteen gery, voordat die motor teen ʼn bakkie, wat ʼn woonwa gesleep het, gebots het.

Martinique het wonderbaarlik nie seergekry nie, maar Marilize, Damian en Abigail het ernstige beserings opgedoen. Damian en Abigail het intussen tot so ʼn mate herstel dat hulle weer teruggekeer het skool toe. Marilize het die afgelope naweek by die huis deurgebring, maar moet nog vyf weke in die rehabilitasiehospitaal wees voordat sy finaal ontslaan kan word.

Lees alle vorige berigte oor die Bright-gesin op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Kathy ·

Vanoggend kan mens weereens net die Here dank dat die gesin se lewens gespaar is. Sien nou weer ‘n berig van ‘n dame wat nie so gelukkig was nie.

Theresa B ·

Heerlik om sulke nuus te verneem. Alle eer aan die Hemelse Vader. Sterkte verder. Die 5 weke sal goed verloop en gou verby gaan.

Cilliers ·

Vasbyt, mevroutjie! Ons het vir jou gebid, en ons gebede is beantwoord, Ek weet sommer jy sal binnekort weer kan huppelstap!

Gesiggie ·

Dit is so lekker om n getuienis te kan lewer, van nog n kans in jou lewe… en Marilize is beslis een van daai mense…. Dit verbly n mens se hart om te weet, na als wat sy en haar kinders deur gemaak het, daar beterskap is…. Vat elke dag tree vir tree Marilize…. God sal jou versterk… en jy sal weer tenvolle herstel…. so baie bly vir jou…. Dankie vir die goeie nuus, na al die slegte nuus vandag….

Testertjie ·

So bly vir haar en familie. Wonder of al hierdie sake Krugersdorp en Roodepoort nie verband hou nie?

oni ·

Graag sal ek wil wet wie verantwoordelik
gehou word vir mediese-kostes oor al die gruwelike dade wat gepleeg word teen onskuldige mense?

jemma ·

Jyself.My man geskiet in gewapende roof wat hom verlam gelaat het.Was ook soos Marelize in Milpark behandel .Mediese fondse dek net soveel.Het bykans als verloor toe dagvaardigings instroom vir onbetaalde rekeninge wat miljoene beloop het.En ons het nie hiervoor gevra nie.En my man steeds verlam.

Oom Kalahari ·

Stel ‘n dagvaardiging met eise in teen die Minister van Veiligheid en Sekuriteit, Polisie asook die Staat, want hul is direk verantwoordelik vir al die anargie en geweld wat plaasvind.

Ouma Bee ·

So bly jy is ook aan die gesond word Marilize. Bid vir jou en jou gesin volle geestelike herstel toe. Mag Vader julle in ‘n kokon van Sy liefde toevou en julle bewaar soos in Ps 91 en Ps 121. Groot groete, Ouma Bee van Roodepoort

Trudie ·

Alle eer en dank aan ons Hemelse Vader vir gebedsverhoring! By God is ALLES moontlik. Julle bly in my gebede Marilize :-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.