Roodepoort-kaping: Seun ‘beter, maar emosioneel’

Eugene, Marilize en hul kinders Abigail, Damian en Martinique. Foto: Verskaf

Eugene, Marilize en hul kinders Abigail, Damian en Martinique. Foto: Verskaf

Marilize Bright (34) en haar seun, Damian (7), is albei steeds in die waakeenheid van verskillende hospitale in Johannesburg, waar hulle herstel ná die mislukte kaping waarin hulle ernstig beseer is.

Alan Bright, Marilize se swaer en woordvoerder van die familie, het Saterdag gesê hoewel Damian goed herstel, is hy baie emosioneel en wil nie in die hospitaal bly nie. Volgens Bright is albei dreineringspype uit Damian se longe verwyder en kan hy al regop sit. Hy sal na verwagting aanstaande week na ʼn algemene saal geskuif word.

“Marilize het Vrydag fisioterapie gehad, maar sy is nog in baie pyn en baie moeg. Haar en Damian se herstel is net ongelooflik,” het Bright gesê. Abigail (9), wat ook na die kaping in die hospitaal behandel is, is Dinsdag ontslaan en sterk sedertdien tuis aan.

Maroela Media het vroeër berig Marilize het verlede week Vrydag, kort voor 15:00, Damian en Abigail (9), by die Laerskool Horison in Roodepoort gaan oplaai in haar blou Hyundai i20. Sy was oppad om Martinique (1) by haar kleuterskool daar naby op te laai, toe hulle deur drie mans gekaap is. Die verdagte wat bestuur het, het sowat 5 km verder, op ʼn skerp draai, beheer oor die motor verloor en oor ʼn randsteen gery, voordat die motor teen ʼn bakkie, wat ʼn woonwa gesleep het, gebots het.

Die drie vermeende kapers is ook ernstig beseer in die botsing en in die hospitaal opgeneem. Hulle kon nog nie in die hof verskyn nie, aangesien twee steeds in die hospitaal behandel word.

Lees alle vorige berigte oor die Bright-gesin op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gesiggie ·

Aan hierdie gesin, mag God jul dra en aan jul die krag gee, om dit wat gebeur het te vergeet, mag God jul versterk en bystaan, Marilize,mag jy gou herstel en jul as n Familie weer geluk hervaar. Als wat mooi is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.