Roodt-gesin oor paspoorte in Rusland gestrand

Die bekende Suid-Afrikaanse ekonoom Dawie Roodt, en sy vrou, Marina. (Foto: Verskaf)

Die bekende Suid-Afrikaanse ekonoom Dawie Roodt en sy vrou, Marina, wag op hete kole in Moskou om te hoor of hulle binnekort Russiese paspoorte vir hul tweelingdogters kan kry sodat hulle weer die land kan verlaat. Weens sanksies teen Rusland werk Roodt se kredietkaart boonop nie in dié land nie en die gesin moes noodgedwonge geld leen.

Yulia en Daria vier op 8 Mei hul negende verjaardag, maar in hierdie stadium is die gesin nie seker of hulle dit terug op Suid-Afrikaanse bodem gaan doen nie.

Marina is ʼn Russiese burger en die gesin was in Sochi vir ʼn familielid se troue. Die kinders het dubbele burgerskap en het met hul Suid-Afrikaanse paspoorte na Rusland gereis. Hulle was vantevore al in Rusland, maar het destyds met hul Russiese paspoorte gereis.

Roodt, ook aanbieder van Ontbytsake op kykNET, sê toe hulle Maandag na Suid-Afrika wou terugkeer, het Russiese doeanebeamptes geweier om toe te laat dat die kinders die land verlaat. Russiese wetgewing bepaal dat Russiese burgers slegs met Russiese reisdokumente in en uit die land mag reis – iets wat die gesin nie geweet het nie.

“Op ʼn manier het ons in Rusland ingekom, lyk my per ongeluk, maar toe ons wil uitgaan, weier hulle dat die kinders die land verlaat,” het Roodt Woensdag gesê.

Yulia en Daria (albei 8) het dubbele burgerskap, maar het met hulle SA paspoorte na Rusland gereis. (Foto: Verskaf)

“Stel jou nou voor: In die middel van die nag hier teen twaalfuur, sê die paspoortbeampte vir jou – en hulle is nogal ʼn redelik arrogante klomp ineptokrate soos op die meeste plekke op lughawens – ons kan maar gaan as ons wil, ons moet net die kinders hier los.”

Dit was uiteraard hoegenaamd geen opsie nie en die gesin het in die land aangebly.

Weens Rusland se oorlog teen Oekraïne is bepaalde sanksies teen die land ingestel, wat onder meer behels die land is van die SWIFT-bankstelsel afgesny. Dít beteken Roodt kon nie eens sy kredietkaarte gebruik nie – en hulle het hul laaste kontantgeld uitgegee omdat hulle kort daarna op ʼn vliegtuig sou klim en geen nut daarvoor sou hê nie.

“Ek het geen kontant nie en ons sit in die middel van die nag met ons twee kinders op die lughawe. Ons het geen blyplek nie, geen geld nie. Nou wat maak jy nou?

“My vrou en die doeanemense baklei, die kinders is in trane. Ek het nie ʼn clue wat aangaan nie, want ek praat net ʼn paar woorde Russies, maar ek weet hier’s moeilikheid.

“Dit is nogal traumaties. Dit is in die middel van die nag en jy word in ʼn kamertjie aangehou asof jy ʼn misdadiger is. Die kinders wil toilet toe gaan, maar jy kan nêrens heen gaan sonder dat iemand jou begelei nie.”

Marina en die egpaar se dogters Yulia en Daria. (Foto: Dawie Roodt)

Die gesin is later uit die lughawe gesit en Marina het haar familie se hulp ingeroep sodat hulle minstens blyplek het. Roodt, ʼn bekroonde ekonoom, moes noodgedwonge ʼn paar roebels leen sodat hulle kan betaal wat nodig is.

“Hel, ʼn mens kom agter hoe verskriklik afhanklik jy van geld is.

“Gelukkig het ons familie hier, want geld …” skerts hy.

Dit neem klaarblyklik sowat vyf dae om ʼn paspoort vir ʼn kind in Rusland te bekom, maar Roodt sê onvoorsiene administratiewe probleme kan die proses vertraag.

Hy het egter sy kontaknetwerk, onder wie die Russiese ambassadeur na Suid-Afrika met wie hy persoonlik bevriend is, ingespan om te probeer verseker die proses verloop seepglad – en so gou moontlik.

“Maar ek is op my senuwees hieroor,” erken hy.

Onder die bes moontlike omstandighede kry die kinders vandag reeds hul paspoorte en is die gesin vanaand op ʼn vlug terug na Suid-Afrika. Die slegste situasie denkbaar sal beteken dat hulle maande lank in die land gestrand kan wees, want sonder hul kinders gaan hulle nêrens nie.

Maar hulle hou moed.

Indien hulle nie binne die volgende dag of wat kan terugreis nie, sal Ontbytsake die naweek ook eers sonder sy gewilde aanbieder moet klaarkom.

Die gesin verken intussen die afgelope paar dae die Russiese hoofstad, maar Roodt sê hy sou “veel eerder terug in Suid-Afrika wou wees as om in Moskou gestrand te wees”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

AmY ·

Ai julle, dis sleg.
Sterkte. Hoop julle almal is gou veilig terug.

Daizee ·

Genadiglik is hulle nie van óns Buitelandse Sake afhanklik nie – hulle sou moes huis opsit!!! :-) :-) :-)

Cabytheron ·

Moet erken, ek sou nooit ‘n kans gewaag het Rusland toe onder die huidige omstandighede nie. Nogals gutsy! Ek sou bloot net te bang wees! Hoop julle kom vinnig veilig huistoe!

Misky ·

Julle kan dankbaar wees Rusland moet die paspoorte uitreik en neem omtrent vyf dae. SA sou dit 5 maande met baie geluk en duisende omkoopgeld wees. Sterkte vir die Roodt gesin.

Truth2bfree ·

My SA paspoort was reg binne 3 weke :-)
Die geheim is om dit aanlyn te boek deur Home affairs en die optel daarvan by ‘n bank te reel. Maklik!

JohanR ·

Sal nie eers naby ‘n SA ambassade gaan vir hulp nie. Hulle sit seker daar rond op hulle vet agterwerelde en staan eers ses uur na jy in geloop het om nou uit te vind wat jy daar soek!

Sarel ·

Sterkte…hoop julle kom veilig terug..
Wys net weer voir jy reis doen jou huiserk..

Linda ·

Wys jou buite jou landsgrense beteken jou bank balans nie veel nie en sommige mense dink hulle het goddelike status oor hulle balans op daai staatjie. So ondervinding sal hulle vinnig aarde toe terugbring. Sterkte aan die Roodt familie.

Renet ·

Ek dink – gesiende die huidige omstandighede– is Jan – Tuisbly se karretjie die enigste opsie vir my!!!

knolle ·

Nie hulle huiswerk gedoen oor die dubbel burgerskap konsep nie. My seun bly in Brittanje en mag nie Suid-Afrika of Brittanje op ‘n ander paspoort as die land wat jy binnegaan, se paspoort gebruik nie. In as burger, uit as burger in meeste lande wat dubbel toelaat.

Zietsie ·

Ons woon in Nederland. Kinders het twee paspoorten .Gaan hulle na suid afrika gaan hulle in met SA paspoort en weer uit met SA paspoort. Kom Nederland dan binne met Nederlandse paspoort. Moet wel huiswerk vooraf doen

Jaco ·

Waarom terugkom na dié simpel anti-wit SA met sy beurtkrag, swak vuil staatshospitale, lae standaard onderwys, hemelhoë misdaad, swak of geen munisipale dienslewering, regstellende aksie en en en. Eks seker daarvan dat Rusland veel beter is.

KatjieDeKat ·

Ek stem meestal saam met jou stelling. Dis net op hierdie spesifieke tyd, mens weet nie of dinge “plofbaar” kan raak in Rusland nie, jy weet? Maar ja in die algemeen reken ek ook, as ek onder normale omstandighede die kans sou kry on Rusland toe te verhuis, sou ek daardie kans gryp soos n visarend n forel sou gryp.

Nettie ·

Ons bid julle is gou weer terug in julle eie beddens. En dat die 2 pragtige kindertjies hulle verjaarsdag in hul eie huis kan vier en oor die trauma kan kom. Sterkte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.