Roodt-gesin Saterdag terug in SA ná paspoort-flater

Die bekende Suid-Afrikaanse ekonoom Dawie Roodt, en sy vrou, Marina. (Foto: Verskaf)

Die bekende ekonoom Dawie Roodt en sy gesin sal na verwagting Saterdag terug wees in Suid-Afrika nadat hulle die afgelope paar dae in Rusland gestrand was.

Roodt, ook aanbieder van die gewilde aktualiteitsprogram Ontbytsake op kykNET, sy vrou, Marina, en hul tweelingdogters, Yulia en Daria (8), het verlede maand na Sochi gereis waar hulle ʼn familietroue bygewoon het.

Marina is ʼn Russiese burger en die tweeling het burgerskap in Suid-Afrika en Rusland.

Maroela Media het vroeër berig die gesin is sonder voorval in Rusland toegelaat, maar sake het skeefgeloop toe hulle die land weer wou verlaat. Hulle is voorgekeer nadat doeanebeamptes vasgestel het Yulia en Daria is Russiese burgers en nie wou toelaat dat hulle met hul Suid-Afrikaanse reisdokumente die land verlaat nie.

Russiese wetgewing bepaal dat Russe net met dié land se reisdokumente die land mag in- en uitgaan – ʼn bepaling waarvan die Roodt-gesin nie bewus was nie.

Die egpaar het die afgelope paar dae geskarrel om so gou moontlik paspoorte vir die tweeling te bekom. Die proses duur gewoonlik minstens vyf dae, maar is Donderdag binne enkele ure afgehandel, sê Roodt.

“Ons het gisteraand (Donderdag) laat die paspoorte gekry. Die mense was regtig behulpsaam en hulle het ʼn proses wat gewoonlik minstens vyf dae duur, vir ons binne ʼn paar uur ingedruk,” het Roodt Vrydag, enkele ure voor die gesin se vertrek uit Rusland, gesê.

Die Russiese ambassadeur in Suid-Afrika, ʼn persoonlike vriend van Roodt, het ook gehelp om die proses te bespoedig.

Roodt sê hulle het ook nou agter die kap van die byl gekom oor waarom amptenare nie wou toelaat dat die kinders die land verlaat nie.

“Rusland erken nie dubbele burgerskap nie,” het hy verduidelik.

Die kinders het sonder voorval met hul Suid-Afrikaanse reisdokumente die land binnegegaan, maar amptenare het heel toevallig besef Yulia en Daria is Russiese burgers toe hulle die land wou verlaat.

Roodt sê by die doeanepunt is daar twee toue – een vir Russe en een vir ander burgers. Marina is ʼn Russiese burger, Roodt ʼn Suid-Afrikaner en die dogters het dubbele burgerskap. Die gesin was  Maandagaand dus onseker oor watter tou om by in te val en het aan doeanebeamptes gesê die dogters het Russiese burgerskap.

Dit het die proses summier gestuit en veroorsaak dat die kinders nie toegelaat is om die land te verlaat nie. Roodt en sy vrou kon die land verlaat, is aan hulle gesê, maar die dogters moes bly. Dit was geensins ʼn opsie nie en die gesin was sonder enige kontant of blyplek in Moskou gestrand. Familielede van Marina het ingegryp en blyplek – en ʼn paar roebels – verskaf.

“Hierdie amptenare is klein mensies met groot stempels …” sê Roodt.

Die gesin is eindelik uit die lughawe gesit en het die afgelope paar dae die proses gevolg om Russiese paspoorte vir die tweeling te bekom. Hulle het Vrydagaand terug na Suid-Afrika vertrek.

Yulia en Daria vier Sondag hul negende verjaardag en gaan dit ten minste weer terug by die huis kan doen.

Daria en Yulia spog op Moskou se Rooiplein met hul nuwe paspoorte. (Foto: Verskaf)

Ontbytsake moet die naweek ook sonder sy gewilde aanbieder klaarkom.

Roodt sê verskeie mense het hom die afgelope paar dae oor die verloop van gebeure op sosiale media gekap.

“Dit was regtig ʼn slip-up. Sommige mense het gesê ek was onverantwoordelik, maar ek sal mos nou nooit my kinders doelbewus hieraan blootstel nie. Dit was werklik ʼn blaps.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.