Roofdiere hervestig ná tieraanval by roofdierpark

Een van die tiere by die Seaview-roofdierpark in Port Elizabeth. (Foto: Seaview Predator Park/Facebook)

Die Oos-Kaapse regering het bevind daar was niks fout met die heining óf die permitte van ʼn roofdierpark in Gqeberha (Port Elizabeth) nadat ʼn werker by dié park deur ʼn tier aangeval is nie.

Nietemin is al die roofdiere van die Seaview-roofdierpark in die proses “vir hul eie veiligeheid” na ʼn ander instansie geskuif.

David Solomon, ʼn werker by die park, is op 16 Junie dood toe ʼn Siberiese tier oor ʼn elektriese heining in die park gespring en hom aangeval het.

Die provinsiale departement van ekonomiese ontwikkeling, omgewingsake en toerisme het in sy ondersoek bevind die elektriese heining van die kamp by roofdierpark het aan al die spesifikasies voldoen.

Die ondersoek na die voorval is in Augustus afgehandel.

Ncedo Lisani, woordvoerder van die departement, het aan Maroela Media bevestig daar was niks fout met die heining waaroor dié tier, Jasper, gespring het nie.

“Die park beskik ook oor die nodige permitte wat tot Desember vanjaar geldig is.”

Die park is sedert Julie vir die publiek gesluit terwyl al die roofdiere, waaronder leeus, tiere, jakkalse, rooikatte en luiperds, ingevolge die relevante wetgewing hervestig word.

Volgens Jo-Ann Meiring, wildbestuurder van die park, is dit in die beste belang van die roofdiere om hulle te hervestig.

“Destyds met David se dood is daar dreigemente teen die katte gemaak. Die eienaars het toe besluit om, ter wille van die katte se veiligheid, vir hulle nuwe huise te soek,” sê Meiring.

“Ons is baie kieskeurig oor waar die diere hervestig word. Dit is vir ons vreeslik hartseer, maar die veiligheid van die katte kom eerste.”

Sover is 20 roofdiere is reeds hervestig en nóg 11 moet geskuif word. Die diere is na verskeie natuurreservate landwyd gestuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Di ·

So bly daar is nie weer sommer besluit om die diere van kant te maak weens die voorval nie. Hoop hulle is gelukkig in hulle nuwe tuiste.

Gerhard ·

Ok ek is gewoonlik aan die diere se kant as iemand doodgebyt word want dis gewoonlik n mens wat in hul area in beweeg.

Maar in die geval is dit my duister, as die heining aan spesifikasie voldoen het hoe het n tier oor dit gespring? Daar is sekerlik minimum hoogtes en minimum afstande van bome en strukture van heinings af?

Dup ·

Tog het die ANC en sy trawante/meelopers na die voorval opgemars na die park en die bejaarde eienaars geintimideer en met die dood gedreig.Wat sê hulle nou?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.