Rooftog by diamanthandelaar gefnuik

(Argieffoto: SA Polisie)

Altesaam 11 verdagtes, onder wie twee polisiebeamptes, is vasgetrek nadat die polisie hulle voorgekeer het kort voordat hulle glo op ʼn diamanthandelaar in Bryanston, Johannesburg, wou toeslaan.

Kol. Brenda Muridili, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie se misdaadintelligensie-eenheid het inligting oor die beoogde rooftog ontvang. Lede van dié eenheid, saam met lede van private veiligheidsmaatskappye, die metropolisie, die polisie se blitspatrollie, honde-eenheid, taktiese reaksie-eenheid én die taakmag het die betrokke perseel Saterdag van vroegmiddag op ʼn afstand dopgehou.

Teen omstreeks 20:30 het die span drie voertuie, ook ʼn gemerkte polisiebakkie, die perseel sien nader.

“Die verdagtes het uit die voertuie geklim en die polisie het nader beweeg, waarna die verdagtes op hulle losgebrand het. Die polisie het teruggevuur en uiteindelik 11 verdagtes, twee van hulle met skietwonde aan hul bene, in hegtenis geneem,” het Muridili gesê.

“Nie een van die spanlede is beseer nie, maar drie polisievoertuie is vol gate geskiet.”

Die polisie het ook beslag gelê op drie vuurwapens – ʼn geweer en twee pistole – asook op die polisiebakkie en nog ʼn voertuig.

Muridili het gesê die verdagtes verskyn Dinsdag in die Randburg-landdroshof op aanklag van sameswering om te roof, poging tot moord, die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie, die besit van vermoedelik gesteelde voertuie en die gebruik van ʼn voertuig sonder die eienaar se toestemming.

Die polisiebeamptes wat in hegtenis geneem is, is ʼn speursersant van Kempton Park en ʼn administrasieklerk van Springs verbonde aan die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe. Hulle sal ook aan interne tugstappe onderwerp word.

Dieselfde ondersoekspan was ook Vrydag verantwoordelik vir die inhegtenisneming van vier verdagtes wat vermoedelik deel is van ʼn sindikaat wat koeriers teiken.

Die vuurwapens waarop beslag gelê is, sal vir forensiese toetse gestuur word om te bepaal of dit tydens ander misdade gebruik is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JohanR ·

Altesaam 11 verdagtes, onder wie twee polisiebeamptes….manne ek is seker ou Bheki Cele sal een of ander tyd ‘n word saam met julle wissel? Ietsie soos dien jou land en sy mense, en probeer om nie jouself te hulp nie!

Hennie J ·

Goeiemore hoedman. Jou “getransformeerde” polisiemag wys darem nou baie gereeld sy ware kleure.

Johan ·

……..darem was die polisie (misdadigers in uniform) eerste op die toneel! Hierdie onopgeleide dienaars kan nie eens behoorlik dril, skiet of skryf nie, maar Hoed hou hulle in sy mag om ons kwansuis te beskerm. Wees bang, wees sommer baie bang!!

Misky ·

Lekker om sulke goeie nuus te lees en welgedaan aan die goeie polisielede wat nog oor is en die slegte appels uithaal. Hoop net die howe doen nou hulle deel en gee gepaste vonnisse

Genis ·

“Our People” man.. Skrikwekkend hoeveel SAPD betrokke is… So m.a.w. as hulle eerste op toeneel is, heet dit geen leun?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.