Die polisie is op die spoor van minstens twee verdagtes nadat ’n skietery Sondag by ’n juwelierswinkel in ’n winkelsentrum in Bedfordview in Johannesburg uitgebreek het. Een verdagte is in die voorval doodgeskiet.
Brig. Mathapelo Peters, woordvoerder van die polisie, sê in ’n verklaring drie rowers het omstreeks 12:00 op ’n juwelierswinkel in die Bedford-sentrum toegeslaan. Die rowers het glo op horlosies aangedring.
Volgens Peters is die winkelsentrum se veiligheidswagte van die rooftog in kennis gestel waarna hulle die rowers in die winkel genader het. ’n Skietgeveg het egter tussen die twee partye uitgebreek. Een van die rowers is in die proses doodgeskiet waarna sy makkers met verskeie horlosies op die vlug geslaan het.
Die rowers het een van die veiligheidswagte bygedam terwyl hulle weggevlug het. Die beseerde wag sterk tans in ’n hospitaal aan.
Peters verduidelik dat daar vermoedelik meer as drie rowers in die rooftog betrokke was aangesien die verdagtes in twee onderskeie motors op die vlug geslaan het. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Die polisie het ná afloop van die voorval op ’n aanvalsgeweer beslag gelê. Die vuurwapen sal vir ballistiese toetse gestuur word, het Peters verduidelik.
Die beraamde waarde van die horlosies wat gebuit is, is nie in dié stadium bekend nie.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
3 Kommentare
Hoekom “onderskeie” motors? Ek is seker dit was twee gewone motors.
Darem nie meer bloed in die gange soos laas keer nie.. gaan lekker in daai area
Ja dis weer “sulke” tyd. Danksy die nuwe SA – danksy al die werkloosheid.