Rooftog by winkelsentrum gefnuik

(Foto: Centurion Mall/Facebook)

Die polisie het Dinsdag ʼn groep gewapende mans se planne om die Centurion-winkelsentrum te beroof gefnuik, nadat beamptes die verdagtes ingewag het. Twee van die mans is in hegtenis geneem.

Kol. Dimakatso Sello, polisiewoordvoerder, sê die polisie het inligting ontvang dat ʼn rooftog by die spesifieke sentrum gaan plaasvind.

“ʼn Groep bestaande uit die misdaadintelligensie-eenheid, snelwegpatrollie en Tracker het beamptes strategies in en om die winkelsentrum geplaas in afwagting vir die verdagtes,” sê Sello.

Beamptes het twee motors wat vermoedelik tydens die rooftog gebruik sou word, by die sentrum sien inry. Die verdagtes het egter besef iets is nie pluis nie ek het probeer om van die toneel af te vlug.

Die polisie kon daarin slaag om twee van die mans vas te trek en in hegtenis te neem. Die res van die verdagtes in die ander motor het egter die polisie ontwyk.

Die polisie het die twee mans se motor deursoek en op ʼn vuurwapen, ammunisie, ʼn seinblokkeerder en handskoene beslag gelê.

Sou die rowers slaag, sou dit die tweede rooftog in ʼn maand se tyd by die Centurion-winkelsentrum wees. ʼn Bende rowers het in Oktober ʼn juwelierswinkel hier geteiken en die eienaar van die winkel doodgeskiet. Vier verdagtes is in verband met sy moord in hegtenis geneem.

Volgens Sello sal die twee verdagtes wat vir die mees onlangse voorval in hegtenis geneem is, na verwagting eersdaags in die hof verskyn vir sameswering om gewapende roof te pleeg.

Lt.genl. Elias Mawela, provinsiale polisiekommissaris in Gauteng, het die betrokke owerhede bedank vir hul toewyding om veral winkelsentrums voor die feestyd te beveilig.

“Wetsgehoorsame burgers gaan nie hierdie feestyd dieselfde ruimtes met misdadigers deel nie,” sê hy.

“Ons is daartoe verbind om meer beamptes op voetsoolvlak te ontplooi om misdadigers se planne vir die feestyd in die kiem te smoor.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Annatjie

Daar kom altyd van die rowers weg. Hoe is dit moontlik as die polisie intelligence eenheid en en en daar was… gereed om die rowers te keer..

Hennie

Maar swakkerag as hulle weet die rooftog gaan plaasvind en dan kom daar steeds n klomp weg.

Snowball

Gangster Gauteng. Kan lankal nie meer waag om net vir die lekker winkels toe te gaan nie want ons is buitendien in criminal lockdown – doen die nodigste, so vroeg en vinnig as moontlik en sorg dat jy by die huis kom.

Frederick

Kan nie glo hoe onbevoeg die polisie is nie.

Martie Smartie

AG Vader tog. Na die tyd is hulle altyd verbind tot die en daai maar die rooftogte gaan lustig voort. Useless SAP