Rooftog eis oudpolisielid en rower

(Argieffoto)

ʼn 80-jarige oudpolisielid is dood toe rowers reg voor die Marquard-polisiestasie in die Vrystaat ʼn pensioenuitbetalingspunt beroof het.

Die bende het Donderdag op die betaalpunt toegeslaan. “Polisiebeamptes het reageer op die vreesbevange uitroepe en ʼn skietery het tussen die polisie en die verdagtes ontstaan,” het brig. Vish Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, gesê.

Een van die verdagtes is doodgeskiet en nog een is gewond en in hegtenis geneem.

“Minstens vier ander verdagtes het met ʼn kontantboks gevlug en in die proses ʼn veiligheidswag gewond en ʼn 80-jarige oudpolisielid doodgeskiet voor hulle in sy voertuig gevlug het,” het Naidoo gesê.

Die polisie het op drie vuurwapens, ʼn geweer en twee pistole beslag gelê. Die gewonde verdagte word in ʼn hospitaal onder polisiebewaking behandel.

Die nasionale polisiehoof, genl. Khehla Sitole, het die polisie se optrede geloof en die gemeenskap gevra om saam te werk om te verseker misdadigers beland agter tralies.

Hy het ook sy medelye met die oorlede polisielid se familie betuig en die gewonde wag ʼn spoedige herstel toegewens.

Die polisie doen ʼn beroep op die publiek om enige inligting rakende die voorval by die polisie se Stop Misdaad-nommer by 08600 10111 of op die MySAPS-app aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Gerhard ·

Sal seker nie lank sit nie dan op parool uitkom,maar iemand mors met sy lewe boet.

Frm ·

Reg voor n polisiestasie? Voor die sogenaande demokrasie het die skurke op hulle tone verby n polisiestasie geloop as daar nie n ander pad was nie. Kyk nou!

Scalla ·

Reg voor die stasie, dus kon hul nie aanvoer daar was nie voertuie beskikbaar nie, minstens vier het weggekom, weet seker nie hoe om n skelm te voet agterna te sit nie.

Pieter ·

Die voertuie wat daar is staan by hulle huise word gebruik om kinders op en af te laai en om shopping mee te doen lekker in afrika

stem ·

en die dag met hulle verhoor, dan “ontsnap” hulle, mooi gedoen
hulle is mos tussen klomp mense in die hof, hoekom sal hulle vlug ?

marous ·

Van ‘n juweel tot ‘n verotte vis kop binne 26 jaar …

PieterJohannes ·

Passop dat die oudpolisielid nie nog deur ‘n polisie beampte geskiet is nie. ‘n Wilde skietery kan sekerlik nie iets goeds afgee nie.

Erich ·

Die gewonde rower is seker in luuksheid in n private hospitaal en nie n staatshospitaal.
Die belastingbetalers betaal mos vir skelms se hosptitaal behandeling in die private hospitale.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.