Rooftog op plaas in Hemel-en-aarde-vallei

Die Hemel-en-aarde-vallei Foto: wineanorak.com

Die Hemel-en-aarde-vallei Foto: wineanorak.com

Twee mans is in hegtenis geneem nadat hulle glo ʼn bejaarde egpaar op hul plaas naby Hermanus beroof het.

“ʼn Groep van vier mans het deur ʼn venster toegang tot die egpaar se huis bekom,” het kol. Tembinkosi Kinana, woordvoerder van die polisie in die Wes-Kaap, Donderdag gesê.

Die 77-jarige man en sy vrou is nie beseer nie. “Die vier mans het kontant, selfone en bankkaarte gebuit en in die egpaar se rooi Volkswagen Polo gevlug,” het Kinana bygevoeg.

Die verdagtes het by Hemel-en-Aarde-vallei ʼn ongeluk met die motor gehad en twee van die mans is ernstig beseer. Hulle is in hegtenis geneem. Die ander twee het gevlug.

“Die twee mans is onderskeidelik 23 en 30 jaar oud. Een is reeds uit die hospitaal ontslaan en die ander bly in ʼn kritieke toestand,” het Kinana gesê. “Hulle sal na verwagting Vrydag in die Hermanus-landdroshof verskyn op aanklag van huisroof en diefstal.

Danie van Zyl van Rural Safety het aan Dayne Nel van Whale Coast FM gesê ʼn vergadering oor gemeenskapsveiligheid in die vallei is verlede naweek gehou, maar slegs nege plaasbestuurders en eienaars het opgedaag. “Ons sukkel om die samewerking van die vallei te kry,” het Van Zyl aan die gemeenskapsradiostasie gesê. “Ons het ook gesê dat dit ʼn erge voorval gaan kos voordat mense belang gaan stel in veiligheid, en dié voorspelling het nou ongelukkig waar geword. Dit is jammer dat dit gebeur het, maar ons wil hê mense moet betrokke raak.”

Van Zyl sê die burgerregte-organisasie AfriForum en die Overstrand-munisipaliteit het hul steun aan Rural Safety gegee.

“Dit bevestig presies wat ek laas week vir die boere gesê het,” het Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, gesê. “Die Wes-Kaap is ʼn ticking time-bomb. Misdaad gaan nie net in die noorde van die land bly nie en boere is sagte teikens. Daar moet ʼn kommunikasiestelsel wees. Dit help nie daar is kameras, maar mense kan nie kommunikeer nie. Dus is die handradio’s baie belangrik. Saam met die kameras en radio’s fokus ons ook op insidentbeheer.”

Bron: SAPA, Whale Coast FM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.