Roofverdagte spog glo ma is LP

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Man wat glo tydens sy inhegtenisname gespog het dat sy ma ʼn lid van die parlement is, het in die Bellville-landdroshof in Kaapstad verskyn.

Samelle Mdaka, seun van ANC-LP Nomakhaya Mdaka, het Vrydag in die hof verskyn en die saak is tot 23 September uitgestel wanneer slotbetoë na verwagting aangehoor sal word.

Die beskuldigde se adres is op die klagstaat aangedui as D55 Acaciapark. Dié kompleks is in Goodwood en talle parlementslede woon daar.

Staatsaanklaer Barry van der Berg het in die hof aangevoer dat die beskuldigde in November verlede jaar ʼn gesin in hul huis in Goodwood beroof het.

Lumgelo Nokwaza het in die sitkamer voor die televisie aan die slaap geraak terwyl sy vrou, Zoleka, en dogter, Aluta, in hul slaapkamers was.

Mdaka het glo by die oop voordeur ingestap en na die kombuis gegaan waar hy ʼn mes gekry het. Hy het glo hierna die ma en dogter met die mes aangehou en beroof.

Die pa het wakker geword waarna hy en Mdaka in ʼn struweling betrokke geraak het. Mdaka kon glo daarin slaag om los te kom en het met juweliersware en klere gevlug.

Zoleka Nokwaza het later by ʼn vriend in Acaciapark gaan kuier, wat toevallig in dieselfde huis as die beskuldigde gewoon het.

Zoleka het aan die hof gesê dat sy Mdaka herken het en dat hy “sigbaar ongemaklik” was toe hy haar gesien het.

Sy het voorgegee dat sy hom nie ken nie en die polisie in kennis gestel. Mdaka het glo tydens sy inhegtenisname gespog dat sy ma ʼn LP is.

Mdaka het onskuldig gepleit op drie aanklagte van gewapende roof. Hy beweer dat hy die aand van die roof saam met sy gesin by hul huis in Acaciapark was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.