Rooi ligte flikker oor Jhb-stadsbestuurder se bedanking

Ndivhoniswani Lukhwareni (Foto: Stad Johannesburg)

Die onverwagse bedanking van Johannesburg se stadsbestuurder, dr. Ndivhoniswani Lukhwareni, kort voor die plaaslike regeringsverkiesing, laat die rooi ligte flikker.

Franco de Lange, VF Plus-raadslid in die Johannesburgse metroraad, het gesê Lukhwareni is aangestel in die tydperk toe ʼn koalisieregering Johannesburg bestuur het nadat die vorige stadsbestuurder, Trevor Fowler, weens ongerymdhede afgedank is. Die VF Plus was deel van die koalisie.

“Die VF Plus is besorg oor die geheimsinnigheid rondom die bedanking van Lukhwareni. Bewerings van sy weiering om sekere finansiële verslae af te teken en druk vanaf die burgemeester, Geoff Makhuba, plaas die metroraad onder verdenking,” het De Lange bygevoeg.

Volgens hom glo sy party in ʼn demokratiese, deursigtige stadsraad en daarom is dit noodsaaklik dat ʼn stadsbestuurder binne die voorgeskrewe strukture onpartydig en nie-polities tot voordeel van alle inwoners moet optree. “Indien die stadsbestuurder weier om finansiële verslae af te teken neem die VF Plus aan dat daar onreëlmatighede kan wees wat ʼn ondersoek sou vereis. Dit kan die Johannesburgse metroraad in ʼn moeilike situasie plaas wanneer die ouditeur-generaal sy verslag en oorsig oor die metroraad moet voorlê.”

Die VF Plus sal die situasie volg tot daar meer duidelikheid oor die aangeleentheid is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Michal ·

Rooi ligte, nooit, dit is verbasend, nie.
Die rooi ligte het al begin flikker in die negentigs

pieterweskaap ·

Baie dankie , VF Plus , vir jul waaksame oog wat julle daar (en elders) namens ALLE inwoners hou!

Die stadsbestuurder se naam en van lyk vir my so ‘n bietjie vreemd, buitelands.

Elize ·

Hou dit maar dop. ‘n Gestelery soos min. Doen sommer ook ‘n oudit op hom persoonlik. Lewe seker ver bo sy salaris.

pompies ·

Ai Elize dit klink of hy juis bedank het omdat hy nie deel van die stelery is nie, wat verstaan jy nie.

Cecilia ·

Ja hy het seker weer sakke vol geld gemaak met onwettighede. Nou is d stoel te warm.! Oor 5jr sal d Stad dalk uitvind wat hy gedoen het. Dan het hy lankal d geld veilig bele in d buiteland

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.