‘Rooi lys’ ʼn groot terugslag vir ekonomiese herstel

(Argieffoto: Unsplash)

Die Wes-Kaapse regering sê hy is teleurgesteld in die regering se hersiene lys van lande wat as ʼn hoë risiko te midde van die Covid-19-pandemie beskou word, aangesien dit ontspanningsreisigers van lande soos Duitsland verhoed om Suid-Afrika te besoek.

Die wetgewer glo die lys moet in geheel geskrap word.

“Dit maak ons ​​sleutelmarkte vir toerisme in die Wes-Kaap wesenlik dood,” sê David Maynier, die Wes-Kaapse LUR vir finansies en ekonomiese geleenthede.

Maynier sê internasionale markte is ʼn belangrike ekonomiese dryfveer vir die Wes-Kaapse toerismesektor.

Dit is volgens die provinsiale regering absoluut noodsaaklik om die land se grense voor die somer vir ontspanningsreisigers oop te stel sodat die toerismesektor so spoedig moontlik kan herstel.

Maynier het wel die departement van binnelandse sake se besluit verwelkom om onder meer besoekers wat vir ʼn tydperk van drie maande of langer gaan bly, in die land toe te laat onderhewig aan Covid-19-maatreëls.

“Uiteindelik beklemtoon die bykomende toegewings slegs ons punt dat die ‘rooi lys’ geskrap moet word en dat alle besoekers toegang tot Suid-Afrika moet kry onderhewig aan ʼn negatiewe toets minstens 72 uur voor vertrek tesame met die nodige siftingsprotokol.

“Daar is eenvoudig geen groter risiko vir die oordrag van die Covid-19-virus op grond van reis nie.”

Volgens Maynier sal die oopstel van die land se grense verseker dat die ekonomie kan herstel en werkverliese in die Wes-Kaap asook die res van die land voorkom word.

Maroela Media het vroeër berig die regering se hersiene lys is aansienlik korter met lande soos Griekeland, Oostenryk, Ierland, die Tsjeggiese Republiek en Switserland wat vir eers nie meer as hoërisikolande beskou word nie.

Dié lande is tans op die hoërisikolys:

Argentinië, Duitsland, Peru, Bangladesj, Indië, Filippyne, België, Indonesië, Rusland, Brasilië, Iran, Spanje, Kanada, Irak, Verenigde Koninkryk, Chili, Italië, VSA, Colombia, Mexiko, Frankryk en Nederland.

Lande op die hoërisikolys word elke twee weke hersien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Dries

Ek mis steeds die naam van die land van oorsprong van hierdie virus, op daardie rooi lys…

Willem

Ek wonder hoekom so lys. Geen regdenkende siek mens gaan mos rondry nie.

Morne

Waar is China op die lys. Oh sorry hulle het mos SA gekoop by die ANC.

Danie

Ek sien nie die anc op die lys nie want hulle is die gevaarlikste aansteklers van die virus. Dla zuma, min van gesondheid ens. Hou anc gelockdown en die land kan weer lewe!