Soorte resepte:

Rooibosnavorsing kry hupstoot van R4,5 miljoen

(Foto: Pixabay)

(Foto: Pixabay)

Die Suid-Afrikaanse Rooibosraad (SARC) het sy navorsingspogings oor hoe dié inheemse tee kan help om sekere siektes te voorkom, ʼn finansiële hupstoot van R4,5 miljoen gegee.

Die raad doen tans navorsing oor rooibostee se potensiaal om allergieë, hartsiektes, diabetes en velkanker, toestande wat tans sowat 43 miljoen mense in Suid-Afrika affekteer, tussen nou en 2022 te verminder.

Rooibos is ʼn goeie bron van unieke en voordelige bio-aktiewe bestanddele soos antioksidante, wat verskil van dié wat gevind word in ander teesoorte, vrugte en groente, en is veral ryk aan phytochemikalieë soos flavonoïde en polifenole wat bydra tot sy gesondheidsvoordele.

Wetenskaplikes sal ook rooibos se impak op dermflora, en tot watter mate dit die newe-effekte van antiretrovirale terapie kan verminder, ondersoek.

“As gevolg van die groot en toenemende gebruik van natuurlike afgeleide middels vir gesonder leefstyle reg oor die hele wêreld, is dit noodsaaklik dat die SARC betroubare data inwin oor die genesingspotensiaal van rooibos, aangesien baie ander kruiegebaseerde behandelings geen onbetwisbare bewyse het nie,” het Joe Swart, navorsingsdirekteur van die SARC, gesê.

(Foto: Pixabay)

(Foto: Pixabay)

“Ons wil gesondheidspraktisyns én pasiënte voorsien van genoegsame bewyse van rooibos se doeltreffendheid om sekere siektes te help voorkom en behandel. In die laaste dekade het die SARC heelwat belê in navorsingsprojekte om hierdie doel te bereik.”

Swart het gesê ná jare van stelselmatige en deeglike navorsing wat spesifiek op rooibos se impak op hartgesondheid gedoen is, sal die SARC uitbrei na intervensieproewe op mense in die finale deel van die navorsingsfase.

Dié intervensieproeftydperk sal bepaal hoeveel rooibos, gelykstaande aan een koppie tee, sal benodig word in ʼn gekondenseerde vorm om die doel te dien van ʼn voedingsproduk om hartgesondheid te bevorder.

Die 12-week lange proeftydperk sal in Augustus begin en die bevindings sal teen die einde van 2022 bekend gemaak word.

Bron: African News Agency

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mooi Man.. ·

Welgedaan SARC, julle het die mark raakgesien..
Gebruik hom!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.