Rooikruis-kinderhospitaal: 183 mishandelde kinders in eerste 5 maande

Rooikruis-kinderhospitaal (Foto: Western Cape Government)

Die Wes-Kaapse departement van gesondheid het Donderdag bekendgemaak dat daar in die eerste vyf maande van die jaar altesaam 183 kinders deur kinder- en maatskaplike beskermingsdienste in die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad behandel is.

Hierdie kinders word in die hospitaal behandel vir verskillende tipes mishandeling, waarvan byna 120 gevalle weens fisieke mishandeling of verwaarlosing was.

Die departement, onder leiding van minister dr. Nomafrench Mbombo, het die hospitaal besoek.

Meer as 40% van die kinders wat deur kinder- en maatskaplike beskermingsdienste behandel is, was tussen die ouderdomme van een tot vyf jaar.

“Die groot aantal mishandelde kinders wat hier by ons is, maak ’n mens opnuut bewus van hoe belangrik kinderbeskermingsdienste in ons gemeenskappe is,” het dr. Anita Parbhoo, hoof‑ uitvoerende beampte van die hospitaal, gesê te midde van Kinderbeskermingsweek.

Die hospitaal het verlede jaar sowat 1 550 kinders per maand behandel, almal wat verskillende vorme en vlakke van sorg en behandeling nodig het.

Luke Albert, woordvoerder van die departement, sê hoewel kinder- en maatskaplike beskermingsdienste nie net misbruik onder kinders identifiseer nie, gaan dit ook oor die identifisering van die kinders wie se lewens in gevaar is, asook die vestiging van intervensies om gesondheid en veiligheid te bevorder.

“Deur hierdie benadering te aanvaar, is die fasiliteit in staat om die welstand van kinders te bevorder en ook te verseker dat die kliniese praktyke onnodige trauma voorkom,” sê Albert.

Tydens die departement se besoek het kinder- en maatskaplike beskermingsdienste benadruk dat hul bedrywighede groot druk ervaar.

“Soos met al ons openbare gesondheidsfasiliteite, is daar ’n groter las van maatskaplike euwels – veral dié wat verband hou met dwelmmisbruik en armoede – wat ekstra druk op die gesondheidsorgstelsel plaas. Tesame hiermee het die fasiliteit daarop gewys dat hy vertragings ervaar met sy binnepasiëntontslagproses wat van eksterne diensverskaffers afhanklik is. Dit is ’n deurslaggewende aspek aangesien die hospitaal nou met hierdie belanghebbendes saamwerk, spesifiek wanneer dit kom by die oorhandiging van sulke sake vir verdere bestuur of ondersoek deur maatskaplike werkers.”

Nietemin het die hospitaal ’n kinderbeskermingsverbeteringsprojek geïmplementeer om te verseker dat hul dienste ’n impak het. Dit sal insluit:

  • Opleiding aan alle hospitaalpersoneel om bewustheid op te skerp en vaardighede te verbeter wat nodig is vir die assessering en bestuur van mishandeling.
  • Ontwikkeling van ’n kinderbeskermingsopleidingsprogram.
  • Die bekendstelling van die nuwe Philisa-kinderbeskermingseenheid om ’n kindervriendelike ruimte vir gevorderde ondersoek en konsultasies te skep.
  • Verskeie dienste beter te integreer en die pad van sorg duidelik te maak, asook om ander rolspelers buite die hospitaal te betrek.

Prof. Heloise Buys, hoof van die kliniese, ambulatoriese en noodpediatriese eenheid, het gesê wat die impak op die hospitaal en Philisa, die hospitaal se kinderbeskermingseenheid, betref, moet hulle in ag neem dat die kinderhospitaal sy mandaat sal vervul deur alle kinders na die beste van hul vermoë te bedien met die hoogste moontlike standaarde van holistiese sorg.

“Dit sal sosiale responsiwiteit, welstand en genesing vir mishandelde kinders bevorder. Dit alles verbeter die hospitaal as ’n inklusiewe en ten volle doeltreffende kinderinstelling om nie net liggaamlike genesing te verskaf nie, maar om ook op die geestesgesondheidsaspekte te fokus deur professionele berading vir mishandelde kinders en hul gesinne te verseker,” sê Buys.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Ronél ·

Géén kind behoort swaar te kry, honger te ly of verwaarloos te word aan die hand van volwassenes wat beter behoort te weet. Kinders word aan ons geleen………

JohanR ·

Drie minute om ‘n kind te maak, veel langer om ‘n ouer, of goeie ouer te wees!

Elmarie ·

Ek verstaan nie HOEKOM mense kinders kry (wat hul eintlik nié wil hê nie) as geboortebeperking oral en maklik en verniet verkrygbaar is nie! Nou kry hul ongewensde ki ders en verniel en verwaaoos hul net sommer. Hel….

Amelia ·

Baie het net kinders om n kindertoelaag te ontvang daardie geld gaan nie noodwendig vir kind nie maar vir dwelms of drank

Papsak ·

Kindertjies moenie lelik behandel word nie ook nie honger ly nie want hulle is klein geskenkies van GOD aan ons geleen

JohanR ·

Hoe werk dit. As daar bewys is kinders is deur hulle ouers beseer word hulle in hegtenis geneem, hof toe en die kinders word weggeneem?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.