“Rooimiere” laat honderde wit duiwe vry vir Hemelvaart

500 wit duiwe op die rugbyveld vrygelaat.

500 wit duiwe op die rugbyveld vrygelaat. Foto’s: Susan Lombaard.

Te midde van groot omstredenheid rondom die voortsetting van godsdiensonderrig in skole, vier talle laerskole landwyd vandag Hemelvaart met verskeie geleenthede by hul skole.

By Laerskool Rooihuiskraal in Centurion het die sowat 1 800 leerlinge, geklee in hul rooi en grys skoolklere, ʼn groot hart op die paviljoen gevorm. Ná die diens, wat deur al die leerlinge en ʼn groot aantal ouers bygewoon is, is 500 wit duiwe op die rugbyveld vrygelaat.

“Dié duiwe vlieg in die lug in, maar hulle weet waar is hulle huis, en hulle eienaar weet hulle sal teruggaan soontoe,” het Ferdie Maree, die skoolhoof, vir die kinders verduidelik. “Net so het Jesus ons belowe, toe Hy weg is hemel toe, dat Hy weer eendag sal terugkom na ons toe.”

Past. Alida Liebenberg van Lewende Woord Centurion wat die diens gelei het, het vir die kinders verduidelik dat God altyd by hulle is, ondanks hulle omstandighede.

“Toe Lasarus dood is, het Jesus sy familie twee dae laat wag voordat Hy daar opgedaag het om vir Lasarus uit die dood op te wek,” het sy gesê. “Net so was Jesus se dissipels baie hartseer toe hulle beste Vriend dood is, sonder om vir hulle ʼn e-pos-adres of ʼn BBM-pin te gee waar hulle hom kan kontak. Maar God wil hê ons moet onthou Hy gee altyd om vir ons, al is Hy nie fisies by ons nie,” het sy op eenvoudige wyse vir die kinders verduidelik. “As jy bang is dat iemand by julle huis gaan inbreek, of jou hart is seer oor jou ouers skei, moet jy weet God gee altyd om vir jou, en Hy sal daar wees om jou te help wanneer jy dit nodig het. God sal jou nooit los nie.”

Leerlinge van die skool is vooraf gevra om niebederfbare voedsel en toiletware saam te neem skool toe om op ʼn tasbare wyse te wys dat hulle omgee vir ander.

“Ons het vanoggend duisende produkte ontvang, wat aangewend word vir ons Rooimier Angels-projek,” het mev. Nita Heyns, ʼn graad 3-onderwyseres wat die projek bestuur, verduidelik. “Talle ouers en gesinne uit ons gemeenskap wat swaarkry word op ʼn weeklikse basis uit dié projek van ons bygestaan.”

Maree het by navraag aan Maroela Media gesê die skool respekteer alle gelowe. “Godsdiensonderrig by skole is tans ʼn sensitiewe onderwerp, maar vir dié skool en sy beheerliggaam is ons Christelike etos en waardes ononderhandelbaar,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

chris maartens ·

ek glo die Here glimlag oor die kinders van Rooimier laerskool. Glo die Here gaan julle seen.

KARIN TERBLANCHE ·

So trots op julle Rooimiere, verseker ‘n skool om van deel te wees!

Yolandi ·

So trots om deel te wees van die Rooimiere!! Elke jaar iets nuuts!!!
Hou so aan Mnr Ferdie!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.