Rooivleisbedryf ‘lamgelê’ deur voortslepende verbod op veilings

(Argieffoto)

Die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) sê die situasie in die bedryf moet so gou moontlik na normaal terugkeer, sodat veilings en lewende hawe-skoue in al die provinsies, behalwe Limpopo, hervat kan word.

ʼn Landwye verbod is in Desember op veilings geplaas ná nog ʼn uitbreking van bek-en-klouseer in Limpopo verlede jaar.

“Die huidige situasie is onhoudbaar. Die rooivleisbedryf word lamgelê daardeur, dit verhoed normale prysvormingsmeganismes en het ʼn negatiewe uitwerking op kommersiële en veral opkomende produsente,” het Koos van der Ryst, voorsitter van die RPO, gesê.

“Ons doen ʼn ernstige beroep op die departement van landbou om die uiters drastiese maatreëls te heroorweeg en die geaffekteerde gebied te isoleer sodat normaliteit herstel kan word.”

Van der Ryst het gesê toetse vir nuwe uitbrekings is oor die Kerstyd gedoen. Uit die 25 fasiliteite waar toetse gedoen is, het drie positief vir bek-en-klouseer getoets. Die virusaktiwiteit by een van die plekke kon nie verbind word met die ander uitbrekings nie en dit word as ʼn ernstige bron van kommer beskou.

Die RPO sê die gebied moet afgesonder word sodat die res van die land – op sekere voorwaardes – na normaal kan terugkeer.

Die organisasie het ook die tegniese komitee oor bek-en-klouseer gevra om ʼn beleid te finaliseer waarvolgens veilings hervat kan word.

“Die bedryf sal streng selfregulering moet toepas en ons sal moet aanvaar dat ons ʼn nuwe bedeling betree het. Naspeurbaarheid, die merk van vee, die verklaring van dieregesondheidstatus van vee en registrasie van agente sal deel van die beleid moet wees,” het Van der Ryst gesê.

Die RPO sê hy verstaan die erns van die situasie gegewe die feit dat bek-en-klouseer ʼn virussiekte is wat maklik versprei en ʼn ingrypende uitwerking op internasionale handel het.

“Ons het ons status as bek-en-klouseervrye sone by die Internasionale Dieregesondheidsorganisasie (OIE) verloor en ons moet uiters sensitief wees om ons bilaterale handelsooreenkomste, waarvan dié met China seker die belangrikste is, nie in gevaar te stel nie,” het Van der Ryst gesê.

“Daar is ʼn verantwoordelikheid op elke produsent om toe te sien dat aan die nodige protokolle voldoen word om biosekerheid op die plaas te verseker.”

Die RPO het onderneem om sy volle samewerking in dié verband aan die regering te gee en sê dit moet ʼn gesamentlike poging tussen die rooivleisbedryf en die owerhede wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Daan Erasmus ·

Die voorstel van selfregulering is juis wat alles vererger. Daar is altyd produsente wat nie by die reëls hou nie. Sommige is bloot skelm. Ander is net desperaat. Ons inkomste stroom is afgesny, en die uitgawes hou nie op nie.

Terloops ·

Dalk ‘n doelbewuste verbod om die hele nasionale veebedryf by te kom? Is dit ‘n nuwe strategie om te sien of dit boere sal dwing om die bedryf te verlaat? Kan dit in dieselfde lig gesien word hoekom daar nie droogte hulp vir kommersiële boere is nie? Wonder maar net…

John ·

Nee wat, hier is ander redes vir die slow-mo. Die regering wag vir die grondhervormingsplan om af te skop en so meer vee op plase te hou vir die nuwe base se kul-jou-hier-kul-jou-daar-speletjies.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.