Rook in Kleinmond-omgewing weens beplande, ekologiese brande

(Foto: Johannes Froneman op Kleinmond)

Met die onlangse brande nog vars in die gemoed, het inwoners van Kleinmond, Botrivier en Hawston vandag bekommerd gekyk hoe dik rook oor die berg vanuit die rigting Grabouw na hulle waai.

ʼn Boodskap op sosiale media het inwoners egter gerus gestel dat dit die gevolg is van ʼn ekologiese brand wat deur die Stad Kaapstad se direktoraat biodiversiteit by die Steenbras-natuurreservaat uitgevoer is.

“Die brand word gedoen om volhoubaarheid van die fynbos in die gebied aan te moedig,” lui ʼn verklaring deur die direktoraat.

Verskeie brande word sedert verlede maand deur die Stad Kaapstad gedoen — ook om die risiko van wegholbrande te probeer beperk.

“Al die brande word in samewerking met die stad se brandweer en vennote gedoen om te verseker dat die brande veilig en op die regte wyse gedoen word,” het die burgemeesterskomiteelid vir ruimtelike beplanning en die omgewing, Marian Nieuwoudt, gesê.

Die kaal gebrande berg agter Kleinmond, weens brande vroeër vanjaar, kan hier duidelik gesien word. (Foto: Johannes Froneman op Kleinmond)

Volgens die direktoraat sal vars spanne brandbestryders oornag ontplooi word om die brand dop te hou en enige nuwe brande te blus.

Die direktoraat verduidelik dat ekologiese brande “noodsaaklik is in die bestuur van ons bewaringsgebiede aangesien vuur ʼn fundamentele rol in hierdie ekosisteme speel. Waar fynbos en renosterveld te oud raak, raak die plantegroei te dig en word sommige spesies uitgedruk.

“Die brande gee nuwe lewe deurdat dit dooie materiaal verwyder en saadontkieming stimuleer en sommige spesies laat blom.”

Tog wys die direktoraat daarop dat te gereelde brande stadig groeiende spesies kan benadeel en lei tot ʼn afname in saadproduksie. Daarenteen kan brande wat te ongereeld voorkom lei tot die uitwissing van inheemse plante.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marius ·

Sal eerder dink die kaap het meer as genoeg brande beleef die laaste paar jaar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.