Rooster vir matriekeksamen bekend

Argieffoto (Foto: Hoërskool Menlopark via Facebook)

Angie Motshekga, minister van onderwys, het Woensdag aangekondig die gekombineerde Junie- en November- Nasionale Senior Sertifikaat (NSS)-eksamen sal op Donderdag 5 November afskop. Die laaste vraestel sal op 15 Desember geskryf word.

Motshekga het vroeër die jaar bekendgemaak dat matrieks wat vanjaar die hereksamen in Mei en Junie sou skryf, nou saam met vanjaar se matrikulante die eindeksamen in November gaan aflê.

Volgens ʼn verklaring uitgereik deur die departement sal dié gekombineerde matriekeksamen later as gewoonlik geskryf word om skole en leerders voldoende tyd te gee om die volledige kurrikulum deur te werk en ook om te verseker dat daar voldoende tyd toegeken word vir hersiening van die leerplan. Skole was weens die Covid-19-pandemie groot gedeeltes van die jaar gesluit en tientalle skooldae het verlore gegaan.

“Kandidate word weer daaraan herinner dat diegene wat vir die gewysigde senior sertifikaat (ou matriek) en die NSS-hereksamen wat in Mei en Junie geskryf sou word, geregistreer het, toegelaat sal word om die gekombineerde eksamen in November af te lê. Dieselfde geld vir diegene wat reeds vir die NSS-eksamen in Oktober en November registreer het,” lui die verklaring.

Volgens die departement sal meer as 1,1 miljoen leerders die gekombineerde matriekeksamen vanjaar aflê. Elke leerder wat vir die eksamen geregistreer het, sal teen einde September ʼn toelatingsbrief ontvang wat die lys van vakke waarvoor hulle geregistreer het en die eksamensentrum waarvoor hulle ingeskryf is, aandui.

Die registrasie vir die gekombineerde matriekeksamen is gesluit en laat registrasies word nie toegelaat nie.

Die departement sê leerders wie se besigheidstudies- en rekeningkunde-vraestelle oorspronklik vir Oktober en November geskeduleer was, sal twee vraestelle van elke vak in die gekombineerde eksamen skryf. Leerders wat besigheidstudies- en rekeningkunde-vraestelle in die Mei- en Junie-hereksamen sou skryf, sal een vraestel vir elke vak in die gekombineerde eksamen aflê. Dit word duidelik op die rooster aangedui.

Lewensoriëntering (LO) se algemene assesseringstaak word op Maandag 19 Oktober geskryf. Die praktiese eksamens in rekenaartoepassingstegnologie (RTT) en inligtingstegnologie (IT), sal onder toesig op 21 en 22 Oktober onderskeidelik geskryf word.

Die uitslae van die matriekeksamen gaan op 23 Februarie 2021 aan leerders bekendgemaak word. Volgens die departement sal die feit dat uitslae later as gewoonlik bekendgemaak word, nie matrikulante se toelatings tot hoëronderwysinstellings belemmer nie.

Motshekga stel alle matriekleerders gerus dat hulle volle ondersteuning sal ontvang met hul voorbereidings vir die eksamen.

Vir die volledige eksamenrooster, klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Stofdonkie ·

Nou het hulle al ‘n eksamen-rooster maar mag nognie skool toe gaan nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.