Rotsklimmer val 15 m ver; oorleef wonderbaarlik

(Foto: Wildernis-soek-en-redding)

ʼn 35-jarige rotsklimmer het vandeesweek 15 m ver geval én oorleef toe hy saam met ander klimmers by ʼn gewilde krans naby Steenberg in Kaapstad gaan rotsklim het.

Die klimmer het Dinsdagmiddag The Mine, ʼn steil en oorhangende krans op die berg bokant die Silwermyn-weermagbasis, saam met agt ander mense gaan uitklim toe hy eers geval en toe selfs verder na benede getuimel het.

Teen 20:40 was hy in ʼn ambulans op pad hospitaal toe.

David Nel, ʼn woordvoerder van Wildernis-soek-en-redding (WSAR), sê The Mine is gewild by rotsklimmers met veiligheidsankers wat in die rots vasgebout is juis met dié buitelug-sport in gedagte.

(Foto: Wildernis-soek-en-redding)

Die rotsklimmer was glo naby die derde anker op ʼn roete genaamd Locomotion, toe hy ongeveer 15 m ver geval en verby die begin van die roete afgetuimel het.

Een van die man se medeklimmers het besef dat hy ernstig beseer is en het die WSAR ontbied.

Reddingswerkers het vinnig die beseerde rotsklimmer bereik waarna hy deur ʼn paramedikus behandel en op ʼn draagbaar getel is.

(Foto: Wildernis-soek-en-redding)

Die rotsklimmer is vandaar met behulp van ʼn toustelsel tot by ʼn parkeerterrein gedra waar hy in die ambulans gelaai en hospitaal toe geneem is vir mediese behandeling.

Nel sê rotsklim is oor die algemeen ʼn veilige sportsoort.

WSAR het die afgelope 15 jaar op slegs 68 rotsklimverwante voorvalle gereageer. Dit kom neer op ʼn skamele 3% van reddings per jaar.

Geen beserings is in 28 van hierdie voorvalle aangemeld nie.

“Ons moedig enigiemand wat nuuskierig is oor die sportsoort aan om een ​​van die vele rotsklimgimnasiums in Kaapstad te besoek óf ʼn gekwalifiseerde klimgids te huur om hulle touwys te maak.”

(Foto: Wildernis-soek-en-redding)

(Foto: Wildernis-soek-en-redding)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Althes ·

Ek bewonder die soek en reddingspanne vir wat hul moet deurgaan om in baie moeilike omstandighede mense se lewens te red.
Wel gedaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.