Roudiens vir vermiste onderwyser gehou

Dean Dempsey (24). Foto: Verskaf

Dean Dempsey (24). Foto: Verskaf

“Ons moet aanvaar hy is dood, daar is talle bewyse, maar ons sal nooit berusting kry totdat iets konkreets opgelewer word nie.” Dít is die woorde van Iona Dempsey, die ma van 24-jarige onderwyser, Dean Dempsey, wat reeds langer as ʼn maand vermis word.

Dempsey is op 13 April as vermis aangemeld nadat hy nie opgedaag het by die skool in Malmesbury in die Wes-Kaap waar hy daardie dag sou begin klas gee het nie. Dempsey se ma en pa, Mike, bly in Drie Riviere in Vereenging in Gauteng. Hy het ook ʼn broer, Michael, wat vier jaar ouer is as hy.

Maroela Media het kort ná sy verdwyning berig Dempsey se motor, ʼn wit Toyota Yaris, is die dag nadat hy as vermis aangemeld is, verlate in die parkeergebied van die Tsitsikamma Khoisan Village naby die Bloukransrivierbrug in die Oos-Kaap opgespoor.

Dempsey se ma het aan Maroela Media gesê haar seun het aan depressie gely en alle tekens dui daarop dat hy moontlik sy eie lewe geneem het deur van die Bloukransrivierbrug te spring.

Konst. Henry du Rand, polisiewoordvoerder, het Dinsdag aan Maroela Media bevestig dat die soektog na Dempsey nie afgelas is nie. “Die soektog na hom is wel afgeskaal, maar die kuslyn word nog gereeld gepatrolleer en daar word ook op ander plekke gesoek waar daar nog nie gesoek is nie,” het hy gesê.

Dean Dempsey was 'n groot diereliefhebber. Foto: Verskaf

Dean Dempsey was ‘n groot diereliefhebber. Foto: Verskaf

Iona het verduidelik die hele soektog word bemoeilik deur die feit dat die gebied onder die brug moeilik bereikbaar is met baie kranse, klowe, rotse en kuile.

“Alles dui daarop dat hy van die brug gespring het. Hy het ook melding daarvan gemaak in sy briefies wat hy agtergelaat het. Sy klere, selfoon, skootrekenaar en beursie is ook in die motor gevind. Hy het niks by hom nie en sou nie wegloop nie sonder sy persoonlike besittings nie.” Iona het ook van Dempsey se medikasie in die omgewing op pad na die brug opgetel.

Dempsey se geliefdes het op 7 Mei vir hom ʼn roudiens in die NG Klipkerk in Heidelberg gehou. Dit is dieselfde kerk waar hy en sy broer belydenis van geloof afgelê het.

Iona het gesê haar seun was ʼn wonderlike kind en die gesin is baie geheg aan mekaar, wat hulle almal meer verslae maak.

“Hy het in Heidelberg grootgeword. Hy het sy skoolloopbaan by Laer Volkskool begin en aan Hoër Volkskool matrikuleer. Hy het op albei skole se leerlingraad  gedien.”

Dempsey het aan die Noordwes-Universiteit ʼn graad in senior onderwys behaal. Hy het ook keuring ontvang om vanjaar sy honneurs in kliniese sielkunde te doen.

Iona het gesê sy sal haar seun onthou as iemand wat baie lief was vir diere en die natuur.

“Hy was baie lief vir honde en katte en het as vrywilliger by die plaaslike dierebeskermingsvereniging gewerk. Ná sy skoolloopbaan het hy byna daagliks kilometers ver gaan draf en dit ook geniet om te oefen. Hy was baie fiksheidsbewus en gesteld daarop om gesond te kan eet.”

Dean Dempsey. Foto: Verskaf

Dean Dempsey. Foto: Verskaf

Iona het gesê Dean was op sy gelukkigste as hy in die natuur kon wees en het gereeld op staproetes gegaan.

Sy het bygevoeg dat hy glad nie materialisties was nie en met min tevrede was.

Iona het benadruk dat al die betrokkenes gemoeid met die soektog tot dusver alles in hul vermoë gedoen het om hom op te spoor.

“Ons kan net met die grootste lof van elkeen by Tsitsikamma Khoisan Village praat. Die polisie van Stormsriviervallei het ons deurentyd op hoogte gehou van alles. Ons kan en wil  niemand uitsonder nie. Daar was die reddingswerkers, die honde eenheid, helikoptervlieëniers en baie ander gemoeid met die soektog. Hul het hul eie lewens in gevaar gestel om in moeilike omstandighede asook ongure weer aan te hou soek.”

Sy het die polisie bedank dat hulle nie opgegee nie steeds voortgegaan met die soektog.

“Al hoe ons almal berusting sal kry is as daar iets van Dean gevind word. Hierdie is die seerste seer in ons hele  lewe,” het sy afgesluit.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Peet Schabort ·

Liewe ouers en familie. Nie een van ons kan saam praat nie. Mag daar uiteindelike berusting vir julle beskore wees.

yolinda ·

Ek ht soveel medelye mt julle as sy familie..weet presies waardeer julle gn my daddy ook 1 junie 2014 vermis n ons moes deur sewe weke vn hel gn. Ons sy ligaam op 16 Julie gekry in di orange rivier op aliwal noord. Dit voel soos gister n pyn in ons harte nog so rou. Ons weet tot vndag toe ni hoe n wat gebeur ht dat my daddy daar opgeindig ht ni. Groot raaisel ons vetrou maar nt op dieselfde HERE wt ons sy ligaam gegee ht ook aan ons sal openbaar wat werklik gebeur het.

Eliza-beth ·

Geen woorde kan jul regtig vertroos nie, maar weet verseker dat baie mense aan julle dink in hierdie moeilike tye. Sterkte en vrede vir julle op die pad vorentoe

Stoffel ·

Mag ons hemelse vader met die ouers en gesin wees in die moeilike tyd, met die verlies van so ‘n mooi jong man en seun.

Deon ·

Pragtige seun,my medelye met julle as familie,onthou net dat Yahweh in beheer is,Hy sal die vertroosting en krag aan julle gee om deur hierdie droewige tyd te kom.
Sterkte dink aan julle met my gebede.

Tania ·

Ja,wonderlik om te hoor,dat Yahweh in beheer is!! Yahweh se, ” Laat jou hart nie onsteld word nie, GLO in Yahweh, GLO ook in My!” Lees Johannes 14 vers 1. GOD is in beheer, vra Yahweh, om jou te troos.Ek hou jou in my gebede- vertrou op Yahweh!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.