Roudiens vir vermoorde man kort voor troudatum

Nadia Treeby en Gavin Wolfswinkel. Foto: Facebook.

Nadia Treeby en Gavin Wolfswinkel. Foto: Facebook.

Gavin Wolfswinkel (32), wat Sondagaand op ʼn kleinhoewe in die Boschkop-omgewing, oos van Pretoria vermoor is, word Vrydag ter ruste gelê.

Sandra Wolfswinkel, Gavin se ma, het Woensdag aan Maroela Media gesê sy roudiens vind in die kerkgebou van die Collage-gemeente op die hoek van Gypsum- en Hornblendstraat in Elarduspark, in die ooste van Pretoria, plaas.

Maroela Media het vroeër berig Gavin en Lucky Sithome, sy vriend en kollega wat in ʼn afsonderlike huis op die kleinhoewe gewoon het, is Sondagaand omstreeks 19:45 deur drie gewapende mans doodgeskiet.

Die verdagtes het toegang tot die kleinhoewe gekry deur ʼn gat in die heining te knip. Die alarm het afgegaan en die twee slagoffers, albei in die boubedryf, is deur die aanvallers verras en oorval toe hulle gaan ondersoek instel het. Gavin is in die kop geskiet en Lucky in die bors. Hulle is albei op die toneel dood. Die verdagtes het gevlug sonder om iets te buit.

Gavin se verloofde, Nadia Treeby (33), was tydens die voorval in die huis. Hulle sou 12 Desember trou. Lees meer hier.

Gavin laat benewens Nadia ook sy ouers, Hennie en Sandra Wolfswinkel, sy broer en skoonsuster, Sean (40) en Marilyn Wolfswinkel en hul kinders Mia (4) en Ane (7), en sy suster en swaer, Chnay (36) en Deon Coetzer en Chnay se dogter, Merize Wolfswinkel (15), agter.

Reëlings vir Sithome se begrafnis is nog nie bekend nie.

Kapt. Marissa van der Merwe, woordvoerder van die Boschkop-polisie, het Woensdag aan Maroela Media gesê niemand is nog in verband met die dubbelmoord in hegtenis geneem nie. Die ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.