Rouxville-aanval: Boervrou sterk aan

Dr. Bennie Cilliers en sy vrou Cecilia. Foto: Facebook

Dr. Bennie Cilliers en sy vrou Cecilia. Foto: Facebook

Cecilia Cilliers, die vrou wat op 21 Januarie ʼn plaasaanval naby Rouxville in die Vrystaat oorleef het, se toestand verbeter by die dag. Haar eggenoot, dr. Bennie Cilliers, is tydens die aanval doodgeskiet.

Cilliers word sedert die aanval in die intensiewesorgeenheid van die Mediclinic Bloemfontein behandel.

“Sy is steeds in die intensiewesorgeenheid, maar sterk goed aan,” het Amanda Appelgryn, woordvoerder van die hospitaal en die familie, by navraag aan Maroela Media gesê. “Mev. Cilliers se longfunksie en asemhaling het só verbeter dat sy nie meer afhanklik is van ʼn asemhalingsapparaat nie. Sy sal hopelik binnekort in staat wees om weer verbaal te begin kommunikeer.”

Appelgryn het gesê Cilliers het verlede Donderdag geleidelik begin om toepaslik te reageer op instruksies. “Haar dokters hoop dat sy binnekort gereed sal wees om na ʼn geskikte rehabilitasiesentrum oorgeplaas te word. Sy sal egter eers van die intensiewesorgeenheid na ʼn algemene saal gaan ter voorbereiding vir die oorplasing vir rehabilitasie.”

Sy het gesê hoewel ʼn lang pad nog voorlê is haar kinders versigtig optimisties oor haar herstel en toekoms.

Maroela Media het vroeër berig twee verdagtes is reeds in hegtenis geneem in verband met die aanval op die Cilliers-egpaar.

Dr. Cilliers is in die kop en bors geskiet. Cecilia is erg aangerand en in ʼn kritieke toestand na die hospitaal geneem. Die egpaar se hande en voete was vasgebind.

Sers. Yanga Ngcukana, woordvoerder van die polisie, het destyds gesê die egpaar se wit Toyota Hilux-bakkie, wat ná die aanval gesteel is, is op 22 Januarie omstreeks 16:00 by ʼn taxistaanplek in Bloemfontein gevind. “Twee verdagtes, onderskeidelik 30 en 42 jaar oud, is omstreeks 22:00 in Bloemfontein in hegtenis geneem.”

Volgens Ngcukana is ʼn kamera, skootrekenaar en brandewyn, wat vermoedelik tydens die aanval gesteel is, in die verdagtes se besit gevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gesiggie ·

Ek is so bly dat Mev Cilliers beterskap toon… my wense aan haar is dat sy ten volle sal herstel, en dat God aan haar die krag sal gee . Om deur so n Tragedie te gaan word geen mens toegewens… Hestel sal n tyd neem ,want sy het nog die seer om te verwerk van haar Geliefde wat sy moes verloor tydens die aanval. Aan haar kinders bid ek ook God se vertooste hand toe, sodat die pad wat hul saam moet stap… net voorentoe met Rose besaai sal word. Die moordenaars kan boet vir hul dade, maar dit kan nie die lewe van Dr Bennie Cilliers terug bring.. Alle sterkte en mooi wense aan jul.

DPJ ·

Cecilia Cilliers mag God jou seën en jy gou sal herstel.
Onthou asseblief net om God drie-eing te dank en loof dat jy so vinnig en goed herstel het.
Die Here is nou altyd met ons mense al driug die bose om ons te oorweldig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.