’n Vermeende rower is Maandagaand deur sy makkers agtergelaat en toe in hegtenis geneem nadat hulle op ’n winkel in Sydenham in Port Elizabeth toegeslaan het.
Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, sê die 32-jarige eienaar van die betrokke winkel en sy assistent was omstreeks 18:20 besig met ’n klant toe drie mans die winkel binnegekom het.
Een van die mans het ’n vuurwapen te voorskyn gebring terwyl die ander twee agter die toonbank inbeweeg en op geld, lugtyd en sigarette aangedring het.
Die winkelassistent wou egter nie bes gee nie en twee van die mans het by die winkel uitgehardloop – sonder hul derde makker.
Dié het ’n R50-noot op die toonbank gegryp en ook laat spaander. Die eienaar van die winkel en lede van die gemeenskap het egter die verdagtes agternagesit waarna die verdagte met die geldnoot vasgetrek is, sê Naidu.
Die verdagte, ʼn 37-jarige man, het beserings tydens die voorval opgedoen en is intussen onder polisiebewaking in ’n hospitaal opgeneem.
Hy sal binnekort in die plaaslike landdroshof verskyn op aanklag van sakeroof. Sy makkers is steeds soek.
Hy het seker seer gekry toe hy geval het? Hahaha
Die rowers raak deesdae al meer selfversekerd. Gewapende rooftogte is die modus operandi. Sal graag wil weet waar hulle die vuurwapens kry. Dink ek weet …
Die lang arm van die gereg…
Ek hou van die “beserings opgedoen”. Iemand het hom seker bygekom.
Hopelik is hy nie net ‘n dief nie, maar ook ‘n skinderbek.