‘Rower’ deur polisie doodgeskiet

Foto: SAPD

Foto: SAPD

ʼn Vermeende rower is doodgeskiet en sy twee makkers in hegtenis geneem tydens ʼn skietgeveg met die polisie in Chatsworth, KwaZulu-Natal.

Maj. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het gesê drie gewapende verdagtes het Woensdag omstreeks 12:15 ʼn totalisator-operateur in Bayview binnegestorm en kontant geëis. Volgens Zwane kon van die werknemers daarin slaag om te ontsnap en na die polisiestasie daar naby gehardloop om hulp te kry.

Zwane het gesê die rowers het met die polisie se aankoms op die toneel op beamptes losgebrand. Die polisie het teruggevuur en een van die verdagtes, ʼn 25-jarige man, is noodlottig gewond. Die ander twee verdagtes, in hul 30’s, is in hegtenis geneem. Volgens Zwane het die polisie op drie rewolwers en kontant beslag gelê.

Volgens Zwane sal die vuurwapens vir ballistiese toetse gestuur word om vas te stel of dit tydens ander misdade gebruik is. Die verdagtes sal binnekort in die Chatsworth-landdroshof verskyn op aanklag van poging tot moord en roof met verswarende omstandighede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johann Marx ·

Ons leef in ‘n land waar ‘n regter, met jare se ondervinding, met assistente, met genoeg tyd, met al die nodige bewyse….NIE die doodstraf kan toepas nie, maak nie saak hoe geskik dit is nie. Maar ‘n jong polisiekonstabel, vars uit die kollege, kan om ‘n hoek stap, ‘n “verdagte” identifiseer, hom op die plek verhoor, skuldig bevind, en die doodstraf toepas met sy vuurwapen……en dis aanvaarbaar??

pieta ·

Johann, jy is heeltemal reg. Wys my net HOE die ANC dinge in die land na hulle eie keuse bestuur.

Griet ·

Johan, die jong konstabel het nie al daai dinge gedoen waarvan jy hom verdink nie (die verdagte geïdentifiseer, verhoor, ensovoorts, ensovoorts nie) Hy het bloot homself en sy kollega’s verdedig. Hulle is aangeval MET VUURWAPENS en het hulself bloot verdedig. UIt en gedaan!! As die jong konstabel al die dinge gedoen het soos jy genoem het, het ons meer polisiemanne elke dag verloor, terwyl hulle staan en oorweeg of hulle moet (terug) skiet aldan nie.

Give them a Bell’s !!!

Dave ·

Johan Marx en Pieta, wat sou julle twee se keuse wees hoe dit hanteer moes word?

CHRISTA ·

Ek hoop die eienaar gee sy werknemer wat uitgehardloop het en die polisie ontbied het ‘n bonus!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.