Rower dood ná ‘kapers’ op polisieman losbrand

(Argieffoto)

ʼn Rower is doodgeskiet nadat hy en nog twee vermeende makkers naby Hazyview in Mpumalanga op ʼn polisiebeampte en van sy vriende losgebrand het.

Brig. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder, het gesê die 31-jarige konstabel het Sondag in sy private voertuig saam met twee vriende in die omgewing van die Goromane-trust gery toe drie verdagtes in ʼn gekaapte Toyota Legend 50-bakkie die voertuig voorgekeer en sonder om ʼn woord te sê op hulle losgebrand het. Een van die polisiebeampte se vriende is beseer.

“Die konstabel het teruggevuur en twee verdagtes raakgeskiet. Een van hulle is later by ʼn nabygeleë kliniek dood verklaar en die ander een is ernstig gewond,” het Hlathi gesê.

Die verdagtes het vroeër die dag twee voertuie, die bakkie asook ʼn Opel Kadett, in Hazyview gekaap.

Die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) sal ʼn afsonderlike ondersoek na die voorval doen. Die polisie ondersoek ʼn kaping, geregtelike doodsondersoek en poging tot moord.

“Die polisie is nog op soek na die derde verdagte wat oënskynlik in die harwar verdwyn het,” het Hlathi gesê.

Die polisie in Gauteng het intussen sy medelye betuig ná die onverwagse dood van die stasiebevelvoerder van die Boschkop-polisiestasie in Pretoria.

Lt.kol. Raymond Monyai (55) is Sondag ná ʼn kort siekte dood, het brig. Mathapelo Peters, Gautengse polisiewoordvoerder, gesê.

Lt.kol. Raymond Monyai is Sondag dood.

Sy dood kom net ʼn week ná die dood van genl.maj. Theko Johannes Pharasi, Gauteng se adjunk- provinsiale hoof verantwoordelik vir sigbare polisiëring. Pharasi is ook ná ʼn kort siekte dood.

“Monyai was bekend onder sy kollegas en bevelvoerders as ʼn uitstekende leier met dissipline en selfvertroue, eienskappe wat hy ook aan die lede onder sy bevel oorgedra het. Sy kollegas by die stasie en in die Tshwane-distrik het dié energieke stasiebevelvoerder soos een man geloof as ʼn bevelvoerder wat altyd die ekstra myl geloop het en ʼn leier en vaderfiguur was.

“Monyai sal onthou word vir sy bekende uitdrukking oor ‘emosionele belegging’, ʼn sêding wat hy voorgeskryf en uitgeleef het terwyl hy die gemeenskap waarin hy geplaas is, gedien het.”

Monyai het aanvanklik as algemene assistent by die Pretoria-Sentraal-polisie begin werk en het in 1995 ʼn polisiekonstabel geword.

“Hy het hard gewerk, altyd verwagtinge oortref en is ná net twee jaar tot sersant by die Sunnyside-polisie bevorder. Hy het in verskillende afdelings by verskillende stasies in Tshwane gewerk en het op die rangleer gevorder tot hy in 2017 as stasiebevelvoerder van Boschkop aangestel is,” het Peters gesê.

Monyai het oor die jare verskeie medaljes verwerf in erkenning vir en waardering van sy werk in die polisie.

Genl.maj. Johan Ndoluv, waarnemende Gautengse polisiehoof, het gesê dit is jammer dat lede van die polisie in dié stadium nie ʼn gepaste begrafnis kan kry nie. Weens die afsonderingsregulasies wat steeds geld, is ʼn verbod op tradisionele en seremoniële amptelike begrafnisdienste geplaas.

Ndlovu het sy medelye betuig met Monyai se gesin en kollegas. Hy word Saterdag in Montana begrawe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.