Rower dood ná skietery in Strand

(Argieffoto: ER24)

ʼn Vermeende rower is dood en twee ander mense beseer nadat ʼn skietery by ʼn winkel in die Strand in die Wes-Kaap uitgebreek het.

Die verdagtes was glo besig om die winkel in Hoofweg te beroof.

Russel Meiring, woordvoerder van die ambulansdiens ER24, sê paramedici het Saterdag omstreeks 10:00 op die toneel aangekom en een van die verdagtes, ʼn 40-jarige man, in ʼn sloot langs die pad sien lê.

“Die man het ʼn skietwond aan sy nek opgedoen en geen tekens van lewe getoon nie. Niks kon vir hom gedoen word nie en hy is op die toneel dood verklaar,” sê Meiring. ʼn Tweede verdagte, ook ʼn man, het ʼn skietwond aan sy arm gehad en is op die toneel behandel. “Hy is later na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas vir verdere behandeling.”

Meiring sê ʼn bejaarde vrou, wat in die winkel was ten tye van die roof, het beserings aan haar heup opgedoen toe sy omgestamp is. ʼn Ander ambulansdiens het haar behandel en na ʼn hospitaal vervoer.

“Die polisie was op die toneel om verdere ondersoek te doen,” sê Meiring.

Lt.kol. Andre Traut, polisiewoordvoerder in die Wes-Kaap, sê een verdagte is in hegtenis geneem, maar twee ander is nog op vrye voet.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Lou ·

Ons land is nou erger as die Wilde Weste van Amerika in die 1800’s
Moord, roof en skietery elke liewe dag. ‘n Mens wonder wanneer is dit jou beurt om deur te loop?

Annatjie ·

Die enigste manier hoe ons die roof kan beperk is om voorbereid en paraat te wees as die situasie hom voordoen, bewapen jouself. Plaasmoorde is minder omdat die boere voorbereid is en nie meer sulke maklike teikens is nie.

Hanna Hoekom ·

Dit het letterlik 200m van ons huis af gebeur! Vier skote hoor klap. Daardie arme drankwinkel eienaar is nou al vir die hoeveelste keer beroof… Genoeg is genoeg! Skink vir daardie man n Bells.

PJC ·

Dit wil voorkom asof die eienaar ook gewapen was vandaar die dooie asook gewonde rowers. Baie goeie uitkoms vir hierdie rooftog en bewys weereens hoekom die publiek bewapen moet wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.