‘Rower’ doodgeskiet, een vas tydens rooftog

Foto: Verskaf.

Die polisie in Limpopo het ʼn vermeende rower doodgeskiet en nog een in hegtenis geneem toe beamptes blitsig op ʼn rooftog by ʼn supermark gereageer het.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, het gesê die rooftog het Woensdag omstreeks 18:05 by die Usave-supermark in Apel buite Lebowakgomo plaasgevind.

“Volgens inligting het vyf gewapende verdagtes die onderneming binnegegaan en die werknemers met wapens gedreig,” het Mojapelo gesê.

Volgens hom het die verdagtes die kasregisters begin leegmaak en die bestuurskantoor geplunder. Hulle het daarna die bestuurder opdrag gegee om die kluis oop te sluit en ʼn onbevestigde hoeveelheid kontant gevat.

“Die polisie is in kennis gestel en het vinnig reageer. Een verdagte is binne die onderneming in hegtenis geneem. Vier verdagtes het in verskillende rigtings gevlug terwyl die polisie probeer het om hulle voor te keer. Terwyl hulle gevlug het, het hulle op die polisie losgebrand. Die polisie het teruggeskiet en een verdagte is noodlottig gewond,” het Mojapelo gesê.

ʼn Rewolwer, 21 selfone en kontant is langs die verdagte se liggaam aangetref. Volgens Mojapelo het die oorledene ʼn skrikbewind in die Sekhukhune-distrik gevoer en kon hy positief verbind word met verskeie rooftogte wat in die omgewing uitgevoer is.

Die verdagte wat in hegtenis geneem is, is 30 November 2017 op parool vrygelaat ná hy agt jaar tronkstraf uitgedien het vir besigheidsroof.

ʼn Polisiesersant is ook tydens die skietery raakgeskiet en is tans in ʼn stabiele toestand in die hospitaal.

Sake van besigheidsroof, poging tot moord en die besit van ʼn onwettige vuurwapen is aanhangig gemaak.

Die polisie se ondersoek duur voort.

Eigiemand met inligting oor die voorval kan kapt. Boshomane by 084 322 1341 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

CHRISTA ·

Agt jaar in die tronk en hy het STEEDS nie sy leefwyse verander nie!!

Adam ·

Na 8 jaar in die tronk gradueer bykans elke gevangene tot ‘n meester-krimineel. Rehabilitasie is iets wat jy in die mediese veld teekom, nie onder die geledere van kriminele nie.

Marinda ·

Lyk of hy niks geleer het uit sy ondervinding in die tronk nie.

Renier ·

Gelukkig sal die dooie een glad nie weer rooftogte uitvoer nie.

Schalk van der Merwe ·

Nou kan hy ook ‘n staats betaalde begrafnis kry want hy wou seker ook maar net vir sy familie voorsien, soos die trekkerdief. Die kriminele word mos nou helde.

CRIME PAYS ·

Die ROWER se familie gaan nou seker deur die staat bygestaan word. SY begrafnis gaan betaal word en sy gesin gaan ‘n RDP huis kry en ‘n maandelikse inkomste van die staat. Dis hoe dit in SA werk. CRIME PAYS.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.