‘Rower’ doodgeskiet in skietgeveg met polisie

Argieffoto Foto: SAPD, Facebook

ʼn Vermeende rower is Donderdag dood toe ʼn skietgeveg tussen hom en sy makkers en die polisie uitgebreek het.

Volgens lt.kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het drie mans Woensdag om 20:30 veiligheidswagte in Maurice Perryweg in KwaDukuza, KwaZulu-Natal, van 13 vuurwapens, vier selfone en hul maatskappymotor beroof.

Hulle het eers die wagte vasgebind voordat hulle die items gesteel en van die toneel gevlug het in die maatskappymotor.

“Hulle het die volgende oggend [Donderdagoggend] nóg iemand probeer beroof in die Maqumbi-omgewing en die polisie het ʼn leidraad van die publiek ontvang oor ʼn skietery wat daar aan die gang is,” het Zwane gesê.

Toe beamptes van die Maphumulo-polisie en beamptes van die iLembe-polisiëringsgebied blitsig op die voorval reageer, het hulle die Tata-motor wat die vorige aand gesteel is opgemerk.

“Toe die verdagtes die polisie sien, het hulle op die polisie losgebrand. Daar het ʼn skietgeveg uitgebreek en een verdagte is doodgeskiet. Nog drie is vasgetrek en daar is beslag gelê op agt vuurwapens,” het Zwane gesê.

Volgens Zwane is nie een van die beamptes tydens die skietgeveg beseer nie. Die polisie verwag dat nog inhegtenisnemings sal volg.

Die verdagtes sal binnekort in die KwaDukuza-landdroshof verskyn op aanklag van poging tot moord, die onwettige besit van vuurwapens, die besit van gesteelde goedere asook roof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.