‘Rower’ geskiet na hy metrobeampte beroof

Die Beyers Naude-afrit in Randburg. Foto: Google Maps

Die Beyers Naude-afrit in Randburg. Foto: Google Maps

ʼn Vermeende rower is tydens ʼn skietgeveg met die polisie gewond nadat hy ʼn metropolisiebeampte se vuurwapen gesteel het en ʼn bakkie probeer kaap het in Randburg.

Hoofsupt. Wayne Minnaar, woordvoerder van die Johannesburgse metropolisie, het gesê ʼn metropolisiebeampte het Dinsdag by ʼn vulstasie by die Beyers Naude-afrit geld getrek toe hy deur ʼn man aangeval is.

“Die verdagte het die beampte se vuurwapen by hom afgeneem,” het Minnaar gesê. Die verdagte het die vuurwapen op die beampte gerig. “Hy het die sneller getrek maar die skoot het nie afgegaan nie.” Volgens Minnaar het die verdagte na die N1-snelweg gehardloop waar hy ʼn bakkie probeer kaap het.

Die bestuurder en passasier van die bakkie was gewapen en het saam met die metropolisiebeampte die verdagte agternagesit. “Hulle het hom oor die snelweg gejaag waarna hy by ʼn Imperial-motorhandelaar in gehardloop het.”

Die verdagte het in die straat agter die motorhandelaar in gehardloop waar hy vasgekeer is. Volgens Minnaar het polisiebeamptes vir sowat drie ure met die verdagte onderhandel om homself oor te gee maar hy het geweier. Die polisie het ʼn skokgranaat in die man se rigting gegooi waarna hy op hulle losgebrand het. Die polisie het hom geskiet en gewond.

Minnaar het gesê die man sal binnekort in die hof verskyn op aanklag van poging tot moord, die rig van ʼn vuurwapen en diefstal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.