‘Rower’ geskiet ná kitsbankrooftog

Argieffoto: SAPD

ʼn Vermeende rower is Vrydagoggend in Bloemfontein se middestad in die been geskiet nadat twee veiligheidswagte flink op ʼn rooftog by ʼn kitsbank gereageer het.

Konst. Peter Kareli, Bloemfonteinse polisiewoordvoerder, sê ʼn vrou was omstreeks 07:00 besig om geld by ʼn OTM by Hoffmanplein te trek toe twee mans haar oorval en van ʼn onbekende bedrag kontant beroof het.

Hulle het vinnig weggestap, maar twee veiligheidswagte het gesien wat gebeur het en die twee ingehaal. ʼn Struweling het ontstaan waartydens die een wag op die grond neergepen is.

“Hy kon dit nogtans regkry om sy vuurwapen uit te haal en een van die verdagtes in die been te skiet,” vertel Kareli. Die wagte het die twee verdagtes oorrompel en daar gehou tot paramedici opgedaag het. “Hulle is tussen 40 en 48 jaar oud.”

Russel Meiring, ER24-woordvoerder, sê toe hul paramedici om 07:20 opdaag, het hulle ʼn man aangetref wat in die pad gesit het waar die polisie oor hom wag gehou het.

“Die man was in ʼn ernstige toestand en is op die toneel behandel, van pynverligtingsmedikasie voorsien en toe na die provinsiale hospitaal vir verdere sorg gebring,” sê Meiring.

Kareli sê hy word onder polisiebewaking behandel terwyl die ander verdagte by die Parkerweg-polisiekantoor aangehou word. “Die veiligheidswag [wat die man in sy been geskiet het] is nie in hegtenis geneem nie, want ons ondersoek eers die saak.”

Die polisie het wel op sy vuurwapen beslag gelê aangesien dit deel van hul ondersoek sal uitmaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Hoe nou....... ·

Nee jong – wag gaan seker aangekla word vir poging tot moord op n onskuldige verbyganger en afvuur van wapen in beboude gebied en of publiek – kan net dink watse klagtes die die beskuldigtes se verteenwoordiger gaan uithaal om los te kom. Viva die reg stelsel!

PIETER ·

P A R K W E G….. Ek weet dit gaan vinnig om artikels “vars” uit te kry, maar basiese Aardrykskunde is ook belangrik. Parkerweg Polisie bestaan nie.

Antoinette ·

Die veiligheidswag het net sy werk gedoen was nie nodig om sy vuurwapen te vat nie.

Guve ·

Well done,trots op julle goeie werk,hoop jul kry n goeie bonus.

Papa G ·

Wel gedaan Mnr. veiligheidswag! Die meeste sou net in skok staan en staar na die wandaad in pleging. Die maak nou nie saak of dit in Proesstraat of watter Aardykskundige plek ook al dit was nie, goeie werk

Jordaan ·

Is ek die enigste een wat geirriteer word deur “Vermeende” rower en rower in aanhalingstekens in die opskrif? Die sekuriteitswagte het hulle tog gesien, niks is meer “vermeend” nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.