Rower gewond wat seun (14) in rooftog skiet

Argieffoto: https://pixabay.com

ʼn 14-jarige seun is Vrydagoggend omstreeks 03:30 geskiet toe twee rowers by hul huis ingebreek het.

Kapt. Nqobile Gwala, woordvoerder van die polisie, het gesê die voorval het op die R102 Old Mainweg in Pennington plaasgevind. “Dit word beweer die tieners se pa is omstreeks 03:00 uit die huis uit, en die tiener het die deur toegemaak sonder om dit te sluit en weer gaan slaap. Kort daarna het hy gaan ondersoek instel oor hoekom die honde so blaf en is gekonfronteer deur twee mans wat ʼn skootrekenaar en ʼn televisie gesteel het. Een van hulle was gewapen.”

Die tiener se 17-jarige broer het hom kom help en ʼn onderonsie het uitgebreek. “Die verdagte met die wapen het die 14-jarige in die rug geskiet en op die vlug geslaan met die gesteelde goedere. Sy broer het na die bure gehardloop vir hulp,” het Gwala gesê.

Die seun is op die toneel behandel en na ʼn hospitaal gehaas.

ʼn Saak van huisroof en poging tot moord is aanhangig gemaak.

Gwala het gesê beamptes het Maandagoggend inligting opgevolg oor die twee verdagtes wat glo in Dududu wegkruip. “Toe hulle die polisie gewaar, het een ʼn wapen uitgepluk en die polisie het hom in die bors geskiet.”

Albei verdagtes is in hegtenis geneem en die een is onder polisiebewaking in die hospitaal opgeneem.

Daar is ook beslag gelê op ʼn pistool en ammunisie.

Die verdagtes sal volgens Gwala na verwagting Woensdag in die Scottburg-landdroshof verskyn. “As die gewonde verdagte nog nie ontslaan is nie, sal hy voorkom sodra hy ontslaan is. Dié verdagte staan ook tereg op aanklagte van die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie, en die rig van ʼn wapen. Hy sal op daardie aanklagte in die Vulamehlo-landdroshof verskyn.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Netso ·

Ons gesin was in Balito paasnaweek 2017 beroof op die 5de verdieping! Dit is net genade dat ons nie letsels oorgehou het nie! Natal sien my nie weer nie!

Pierre ·

Hulle moet nie vergeet om poging tot moord by die klagtes by te voeg nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.