Rower in mislukte transitorooftog doodgeskiet

Die geldwa waarop toegeslaan is. Foto: Verskaf

ʼn Vermeende transitorower is Donderdagoggend doodgeskiet in ʼn gewaagde poging om ʼn geldwa in Boksburg aan die Oos-Rand te beroof.

Brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoeder, het gesê ʼn onbekende aantal verdagtes het omstreeks 06:00 in minstens drie voertuie op die geldwa in Atlasweg naby die N12-hoofweg toegeslaan.

“Die verdagtes het probeer om die geldwa te beroof. ʼn Skietery het tussen die rowers en die veiligheidswagte ontstaan en een van die rowers is noodlottig gewond,” het Naidoo gesê.

Die verdagtes het glo met leë hande van die toneel gevlug. Naidoo het gesê verskeie eenhede is na die toneel ontplooi en ʼn volskaalse soektog na die verdagtes is van stapel gestuur.

Die polisie het beslag gelê op ʼn AK47-aanvalsgeweer wat op die toneel gevind is.

Ineke van Huyssteen, woordvoerder van ER24, het bevestig ʼn vermeende rower is doodgeskiet.

“Drie ander mense het beserings opgedoen. ʼn Vrou wat in ʼn minibustaxi was toe die voorval plaasgevind het, is raakgeskiet. Sy is in ʼn ernstige toestand na ʼn hospitaal geneem vir mediese behandeling,” het Van Huyssteen gesê.

“Een van die veiligheidswagte is in die voet gewond en nog ʼn wag het ʼn besering aan sy voet opgedoen.”

Verkeer in die gebied word erg ontwrig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anoniem ·

Simpatie aan die onskuldige persoon in die taxi wat beseer is. Hoop sy herstel ten volle.

Ook Anoniem ·

En ek wil net simpatie betoon met die veiligheidswag wat in die voet geskiet is. Hoop hy herstel ook ten volle.

leser ·

mm, julle kon net sowel die video nie gewys het nie, sien in elk geval niks

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.