Rower jaag met vrou weg

Argieffoto: Pixabay

Die Oos-Kaapse polisie ondersoek ʼn saak van sakeroof, motordiefstal en ontvoering nadat vier verdagtes oor die naweek ʼn winkel in Humansdorp beroof het. Een van die verdagtes het met ʼn voertuig wat voor die winkel geparkeer was, met ʼn vrou steeds in die voertuig, weggejaag. Die vrou is sedertdien ongedeerd gevind.

Kapt. Gerda Swart, woordvoerder van die polisie, het in ʼn verklaring gesê vier gewapende verdagtes het Sondag omstreeks 11:45 op ʼn winkel in die hoofstraat van Humansdorp toegeslaan.

“Na bewering het twee mans eers by die winkel ingegaan onder die voorwendsel dat hulle ʼn battery wou koop. Albei het skielik vuurwapens uitgepluk en die verkoopsklerk en twee klante beveel om op die vloer te lê,” het Swart verduidelik.

Volgens Swart het nog twee verdagtes toe by die winkel ingekom waarna hulle kontant uit die kasregisters en ’n kluis uit die kantoor geneem het.

“Die verdagtes het die kluis op ’n wit Nissan NP200-bakkie gelaai wat buite die winkel geparkeer was, met ’n 39-jarige vrou steeds in die voertuig. Die eienaar van die bakkie was in dié stadium nog in die winkel. Een van die verdagtes het toe die bakkie se sleutels geneem en met die vrou weggejaag, terwyl die ander een in ʼn swart BMW geklim en weggejaag het,” het Swart verduidelik.

Volgens Swart is die vrou later langs die N2 naby Port Elizabeth (sowat 89 km van Humansdorp) afgelaai waarna sy familielede gebel het.

Die verdagtes is in dié stadium steeds soek.

Die polisie doen ʼn beroep op die publiek om na vore te kom met enige inligting wat tot die inhegtenisneming van die vier verdagtes kan lei. Inligting kan by ao. Corné Smith by 082 441 7613 of die Humansdorp-polisie by 042 200 4700 aangemeld word, het Swart gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jaco

Al bly ‘n vrou, kind of vriend ook agter in jou voertuig, VAT DIE SLEUTEL SAAM altyd wanneer jy uitklim

Plaaskind

Dankbaar sy is ongedeurd, kan dit amper nie glo dat sy nie geskiet is nie…

marius

Moenie se die polisie se fietse was alweer in vir pap wiele nie ….