‘Rower’ meld glo wegkommotor as gekaap aan

Argieffoto: SAPD

ʼn 21-jarige man het Maandag in die Tonga-landdroshof in Mpumalanga verskyn nadat dit aan die lig gekom het dat hy na bewering ’n valse aanklag van motorkaping by die polisie aanhangig gemaak het.

Dít volg nadat ʼn vermeende plan om ’n plaas te beroof Saterdag glo gefnuik is.

Malvin Sanderson het na bewering Sondagmiddag ʼn saak by ’n polisiestasie aangemeld en beweer hy is Saterdag by Schoemansdal in die Nkomazi-omgewing gekaap.

Volgens kol. Mtsholi Bhembe, Mpumalanga-polisiewoordvoerder, het die polisie gevolglik ’n ondersoek van stapel gestuur waarna dit geblyk het dat Sanderson nié die waarheid praat nie.

Bhembe sê inligting dui daarop dat Sanderson, van Pienaar naby Nelspruit, na bewering ʼn rooftog naby Schoemansdal beplan het. Sanderson en vier medepligtiges is glo Saterdag na ʼn plaas in die omgewing na bewering met die doel om iets te steel.

Dinge het egter nie volgens plan verloop nie aangesien die veiligheidspersoneel aan diens hulle betrap het. Sanderson en sy makkers het na bewering op die vlug geslaan, maar hul wegkommotor het agtergebly.

Bhembe sê dit is dié voertuig wat Sanderson Sondag by die polisie as gekaap aangemeld het.

Die polisie het egter snuf in die neus gekry aangesien ʼn saak reeds deur veiligheidspersoneel teen die vyf mans aanhangig gemaak is. Die motor wat Sanderson beskryf het, was toe ook reeds by die polisie op Komatipoort ingelewer.

Sanderson is gevolglik in hegtenis geneem en het op aanklag van meineed in die hof verskyn. Hy sal in aanhouding bly tot sy volgende hofverskyning op 28 Januarie.

Sanderson se vier vermeende medepligtiges is steeds op vrye voet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Piet Pompies ·

Slim vang sy baas….
Met die nuutste CCV tegnologie is dit moontlik om bewus gemaak te word indien ‘n persoon jou perseel betree, terselfde tyd sommer ‘n foto te neem en stuur na jou epos adres. Dan ontplooi jy die gereg terwyl die oortreder nog besig is met sy ongewenste dade.
Die omgewing waarvan die oortreder kom is nogal bekend as ‘n vesting vir skelms.

Johan H. ·

Lyk my die 30% kriminele kom nou al deur!miskien kan jy nou aanspaak maak op jou skoolfonds,dws asjy dit betaal het!

GM ·

As jy dom voel die dag, onthou, iewers rondom jou is daar mense wat SULKE nonsens uitdink en glo hul gaan wegkom daarmee ?

emily ·

Ek wonder nou net, ANDER kriminele se name word nie genoem nie, maar die ou se naam word duidelik genoem.

Onnie ·

Shame. Onnosel. Seker nie skool kla gemaak nie. So much for that free education, hey!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.