‘Rower’ minute na hofverskyning weer vas

Argieffoto

Argieffoto

Etlike minute nadat ʼn 21-jarige man uit die Port Elizabeth-landdroshof gestap het, is hy weer in hegtenis geneem.

Kapt. Sandra Janse van Rensburg, polisiewoordvoerder, het gesê Sinoxolo Madinda het Dinsdag in die Port Elizabeth-landdroshof verskyn op aanklag van roof. Die aanklagte hou verband met ʼn voorval in die Swartkopsarea in September verlede jaar.

Madinda is vroeër op borgtog vrygelaat, maar is weer in hegtenis geneem nadat hy nie vir sy volgende hofverskyning opgedaag het nie. Hy het Dinsdag voor landdros Jan van der Westhuizen verskyn, wat hom weer op ʼn waarskuwing vrygelaat het.

Van der Westhuizen se waarskuwing het duidelik nie veel impak gehad nie, want minute nadat Madinda die hofgebou verlaat het, het hy twee mans genader en gevra vir ʼn sigaret. Hy het die mans gevra om saam met hom te kom omdat hy vir hulle iets wou wys. ʼn Kort entjie van die hofgebou het Madinda ʼn mes uitgeruk en die mans gedwing om hul waardevolle items aan hom te oorhandig. Hy het egter nie besef dat die twee mans lede van die Mount Road-polisie se misdaadvoorkomingseenheid is en net in gewone klere geklee was nie.

Hy is op die plek in hegtenis geneem en teruggeneem polisiestasie toe. ʼn Saak van poging tot roof is aanhangig gemaak en hy sal in aanhouding bly totdat hy later vandeesweek in die hof verskyn.

News24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Asjas ·

Ek hoop die uwe Jan van der Westhuizen kom hiervan te hore. Nog voordat hy hom op waarskuwing laat gaan het was dit al duidelil die mannetjie is arogant en gewoonte misdadiger.

Paul ·

Jy bedoel sekerlik “sy edele” en nie “die uwe” nie?

“Die uwe” verwys na jouself – dis nie ‘n eretitel nie.

Asjas ·

Dankie vir die regstelling. Ek leer graag die regte manier van dinge doen.
Ek weet net nie of ek so ver sal gaan as om hom “edel” te noem nie ;-) !

AGNEE ·

En dan gaan hy maar net weer n waarskuwing kry!!! En volgende keer loop roof skeef en moord volg!!!

CHRISTA ·

Dit wil vir my lyk of die misdadigers in ons land dink hulle is “untouchable”!

KarooKlong ·

Landdros Jan van der Westhuizen se besluit om ‘n skelm los te laat wat nie eers die hof of ‘n bevel van die hof respekteer nie is wat maak dat die skelms dink hulle is “untouchable”.

Big Brother ·

Ongelooflik dat die spook met a wapen-mes- in sy besit in die landroshof verskyn het.

Christie Joubert ·

Hoekom ‘Rower’? Twee artikels met ‘rower’ Hy is n rower of nie. Gebruik dan eerder die woord verdagte…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.