‘Rower’ mislei hof en stap met boete uit

Mduduzi Blessing Zama. Foto: ANA

Mduduzi Blessing Zama. Foto: ANA

Die KwaZulu-Natalse polisie is op soek na ʼn vermeende misdadiger wat uit die Scottburgh-landdroshof ontsnap het nadat hy hof-ordonnanse om die bos gelei het.

Maj. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het gesê Mduduzi Blessing Zama het Dinsdag uit die hof ontsnap waar hy op aanklagte van sakeroof verskyn het.

Zwane het gesê daar was die afgelope paar maande inbrake by talle ondernemings in die Scottburgh sakesentrum, maar die polisie kon nie daarin slaag om die inbrekers vas te trek nie. Nadat ʼn inwoner die polisie laat weet het van twee verdagte mans wat op sy perseel rondbeweeg, is die twee in hegtenis geneem op aanklagte van onregmatige betreding.

“Terwyl hulle in aanhouding was, is hulle ondervra en dit het die polisie tot by Zama se huis in Amandawe gelei waar verskeie gesteelde items gevind is,” het Zwane gesê. “Baie van hierdie items is gesteel tydens die inbrake by Scottburgh-ondernemings. Zama is in hegtenis geneem op aanklagte van sakeroof en sou op 11 Augustus in die hof verskyn.”

Zama was egter slinks en het homself by die hof as ʼn ander verdagte voorgedoen, wat op ʼn aanklag van dwelmgebruik verskyn het en met ʼn boete vrygelaat is. Teen die tyd dat hof-ordonnanse hul fout agtergekom het, het Zama homself reeds uit die voete gemaak.

“Daar word ʼn beroep gedoen op enigiemand wat weet waar Zama homself bevind om ao. Yugen Moodley by 039 978 9917 te skakel of Crime Stop by 08600 10111,” het Zwane gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Peter C ·

Nee wat, hierdie perd moet mos in die Parlement wees! Hy sal mooi daar inpas. Hier gaan ons alweer!

pop ·

Kan mens nog kommentaar lewer op die berigte, want alles is al gese!!!

CHRISTA ·

Dit lyk my die mense wat in ons howe werk is so toe, as hulle omdraai loop hulle in hulself vas!! Of hulle is kop in een mus met die misdadigers!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.