‘Rower’ ná huisroof doodgeskiet

Argieffoto (StevePB, Pixabay)

ʼn Vermeende rower is doodgeskiet nadat hy en sy makkers in ʼn skietgeveg en hoëspoed-jaagtog met KwaZulu-Natalse polisiebeamptes betrokke geraak het.

Kol. Thembeka Mbele, woordvoerder van die polisie, sê ʼn huiseienaar is Donderdagoggend by ʼn huis in Eagle Hill, Yellow Wood Park, in die suide van Durban deur rowers oorval. Daar is ʼn vuurwapen op die huiseienaar gerig en die rowers het met sy televisie in sy voertuig en hul eie wegkommotor op die vlug geslaan.

ʼn Saak van roof is by die Montclair-polisiestasie aanhangig gemaak.

Later die aand het polisiebeamptes van die Ethekwini-Noord-groepering ʼn misdaadvoorkomingsoperasie in Gedeelte C van KwaMashu uitgevoer en daar die voertuig opgemerk wat vroeër die dag in Eagle Hill gesteel is. “Die beamptes het die vier insittendes in die voertuig opdrag gegee om stil te hou, maar hulle het weggejaag en in die proses op die beamptes losgebrand,” sê Mbele.

“Die polisiebeamptes het teruggeskiet en ʼn 35-jarige verdagte is doodgeskiet, terwyl drie ander daarin kon slaag om tydens die skietery te vlug.”

Polisiebeamptes het op die toneel beslag gelê op ʼn rewolwer waarvan die reeksnommer afgevyl is. Sake van poging tot moord en besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen is by die KwaMashu-polisiestasie aanhangig gemaak. ʼn Geregtelike doodsondersoek word ook gedoen.

Mbele sê lede van die Durbanse honde-eenheid het daarna ʼn soektog van stapel gestuur na die drie verdagtes wat gevlug het. Terwyl hulle met hul soektog besig was, het hulle op ʼn 33-jarige man in die Siyanda-gebied afgekom wat in die besit van ʼn ongelisensieerde pistool en 12 patrone was. Dié vuurwapen se reeksnommer is ook afgevyl.

Die man sal binnekort in die Ntuzuma-landdroshof verskyn op aanklag van besit van ʼn onwettige vuurwapen en ammunisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

IK ·

Op en wakker polisie. Slaap by die huis en nie op die ‘job’.

Johann Holtzhausen ·

Bravo vir hierdie lede van die SAPD! Dit lyk of hulle hul werk ernstig op neem.

Hendrik van George ·

En Gun Free South Africa wil wettige wapens van wetsgehoorsame eienaars wegneem sodat ons uit gelewer kan wees aan die rampokkers en rowers.

Johan ·

ONS moet die reg in ons hande neem en as ñ vrou se borste af ge sny word dan doen die Polisie niks nie ?‍♀️

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.