‘Rower’ ook glo deel van Limpopo-plaasaanval

Martin Baloyi. Foto: SAPD

Martin Baloyi. Foto: SAPD

ʼn 27-jarige man wat die afgelope naweek vir gewapende roof in hegtenis geneem is, is vermoedelik dieselfde verdagte wat Woensdag ʼn boer op sy plaas in die Saamboubrug-gebied naby Alldays in Limpopo oorval het.

Kol. Ronel Otto, woordvoerder van die polisie, het gesê Martin Baloyi was glo deel van ʼn groep van vier verdagtes wat vyf rylopers die naweek ʼn saamrygeleentheid aangebied het. Die verdagtes het skielik stilgehou en die vyf rylopers van hul selfone, kontant en ander besittings beroof voordat hulle langs die pad agtergelaat is.

“Die polisie het kort daarna die verdagtes se voertuig in die omgewing gesien en hulle gedwing om stil te hou. Die voertuig het stilgehou, maar drie van die verdagtes kon daarin slaag om te voet te vlug. Baloyi, wat as ʼn veiligheidswag in Soshanguve werk, is egter in hegtenis geneem. Altesaam 21 gesteelde selfone en ander gesteelde items is in die motor gevind,” het Otto gesê.

Dit het later aan die lig gekom Baloyi was vermoedelik deel van ʼn groep wat op 23 Desember ʼn 63-jarige boer op sy plaas in die gebied oorval, aangerand en met ʼn mes gesteek het. Die verdagtes het die boer van sy selfoon beroof en in sy Ford Ranger-bakkie gevlug. Die bakkie is later verlate en uitgebrand naby Musina gevind.

Baloyi het Maandag in die landdroshof in Louis Trichardt verskyn op aanklagte van huisbraak, gewapende roof en voertuigdiefstal. Hy sal in polisieaanhouding bly tot sy volgende hofverskyning op 15 Januarie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Alet Viljoen ·

Dit is reg dat hulle gevang word net jammer te veel kom weg.

Dee ·

Dit klink asof hy op meer aanklagte behoort te verskyn soos ondermeer poging tot moord en vandalisme.

Peet Schabort ·

Mag die res van jou ‘All Days’ agter tralies wees . . .

Asjas ·

Hy was seker Veiligheidswag van die jaar daar waar hy werk!?

weggegee ·

Johan jy weet ñ mens sê soms goed wat ander mense laat dink watter soort mens is hy en wie jy nie werklik is nie, maar dit laat jou beter voel. Daar is nie regtig woorde vir die soort nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.