‘Rower’ skiet homself per ongeluk raak

Die verdagte het te voet gevlug toe hy homself in die been geskiet het. (Foto: Verskaf)

ʼn Beweerde huisrower het sy eie ontsnappingspoging gefnuik toe hy te voet van ʼn misdaadtoneel wou vlug, maar in die proses homself in die been geskiet het.

Die verdagte het glo reeds ten tyde van die voorval ʼn man ernstig gewond.

Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare911, sê paramedici is Dinsdag om 07:33 ná gerugte van ʼn skietery na ʼn huis in Kenilworth, Johannesburg, ontbied.

ʼn Bebloede man, wat glo tydens ʼn gewapende rooftog in sy kop en bors geskiet is, is in die omgewing aangetref.

“Terwyl die verdagte te voet van die toneel gevlug het, het hy egter homself in een van sy bobene geskiet en sy ontsnappingspoging tot ʼn einde gebring,” sê Herbst.

Paramedici het die ernstig beseerde slagoffer op die toneel behandel, voordat hy na ʼn plaaslike hospitaal geneem is.

Die verdagte is ook behandel en na ʼn hospitaal in die omgewing geneem.

Maroela Media het navraag aan die polisie gerig oor die moontlikheid dat die verdagte in hegtenis geneem sal word, maar is aangesê om eers ʼn saaknommer te verskaf voordat enige inligting oor die voorval geopenbaar kan word.

Die omstandighede wat tot die beweerde rooftog gelei het, is nog nie bekend nie, maar die voorval sal na verwagting deur die betrokke owerhede ondersoek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Dup ·

Hierdie landjie van ons is stadig maar seker besig om in ñ sinkgat weg te sak.

B-Man ·

“…omstandighede wat tot die rooftog gelei het…”? Swak regering en toepassing van wette? Hongersnood en armoede?

Hardekwas ·

In ekonomie 101, lank gelede, was die eerste les dat misdaad wel betaal. Slegs 2 uit 10 misdadigers word gevang, en van dié wat gevang word, word n baie klein % uiteindelik suksesvol vervolg.

Perdeby ·

Hy moes hom per ongeluk in ie kop geskiet het. Hy sal onder Polisiebewaking in die hosp wees.

Karina ·

Dat hy homself in die been geskiet het, vertel vir my wapen ongelisensieerd plus hy is nie bevoeg om ‘n wapen te besit nie. Voorspoed aan die slagoffer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.