‘Rower’ skiet homself toe hy polisie wou ontduik

(Argieffoto: Bill Oxford/Unsplash)

ʼn Vermeende rower het die afgelope naweek homself in die kuit geskiet toe hy van die polisie probeer wegkom het in Hanoverpark in Kaapstad.

Volgens JP Smith, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, het wetstoepassingsbeamptes Vrydagaand Hanoverpark gepatrolleer toe ʼn vrou wat pas beroof is, hulle genader het. Hulle het ʼn paar minute later die man wat die vrou aan hulle beskryf het, gewaar.

“Toe die man die beamptes gesien het, het hy op hulle begin skiet. Hy het weggehardloop en in die proses gestruikel. Hy het op die grond beland en homself per ongeluk in die kuit geskiet,” vertel Smith.

Ondanks sy struikelblok, kon hy steeds daarin slaag om weg te kom.

“Die beamptes het later die aand ʼn voertuig ná die aandkloktyd voorgekeer. ʼn Vrou in die motor het beweer dat haar kêrel geskiet is en in die Heideveld-daghospitaal behandel word. Die beamptes het ondersoek gaan instel en vasgestel dat dié man die rower is wat homself vroeër die aand in die kuit geskiet het.”

Die man is in die hospitaal in hegtenis geneem. Nadat hy ontslaan is, het hy die beamptes gaan wys waar sy vuurwapen weggesteek is.

“Die man word aangekla van poging tot moord. Hy is na die Philippi-polisiestasie geneem.”

Volgens Smith het wetstoepassingsbeamptes die afgelope paar dae altesaam 143 mense in hegtenis geneem en meer as 35 000 boetes opgelê.

Die verkeersdiens van die stad het altesaam 25 verdagtes in hegtenis geneem, 12 voertuie en 136 selfone geskut, asook 33 756 boetes uitgereik.

“Die afgelope week het beamptes 1 630 boetes uitgereik weens die oortreding van die inperkingsregulasies. Altesaam 1 469 hiervan was mense wat nie maskers gedra het nie.”

Metropolisiebeamptes het Sondag op ʼn klag in Khayelitsha gereageer toe ʼn snoepie beroof is. Twee mans is met die gesteelde goedere in hul besit betrap en in hegtenis geneem.

ʼn 54-jarige man is Sondag in Parklands by ʼn voertuigkontrolepunt in hegtenis geneem omdat hy dronk bestuur het, terwyl ʼn ander dronk bestuurder Vrydag in Khayelitsha in hegtenis geneem is.

Smith sê dié week het egter sover rustig afgeskop.

“Maandag was ʼn stil dag. Daar was geen berigte oor taxigeweld of voorvalle nie. Skole het pas heropen en ons hou die openbare vervoer van leerders fyn dop en bly waaksaam vir voorvalle wat kan opduik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Harley Davidson ·

Dit is die tipe persoon wat Cele en sy bendes in blou moet ontwapen en jag moet maak op,en die bevoegde vuurwapen eienaar met rus moet laat.

Bertie ·

Hy struikel en skiet homself. En dan ontglip hy nog steeds die polisie? Hoe onfiks en oorgewig was die polisiebeamptes?

E ·

Ja nee my gedagte ook. Ek dink iemand in ‘n rolstoel sal van die polisie kan ontsnap. En as hyt ‘n vuurwapen rig op hulle mag hulle mos hulle self verdedig of het hulle waterpistooltjies?

Cherokee ·

Waarvoor word selfone geskut? Seker gebruik wanneer bestuur.

Sêmanet ·

Hoekom word rower in aanhalingstekens gesit. Hy is ‘n rower of hy is nie.

Elinette ·

“Onskuldig tot skuldig bevind” – het jy nog nooit daarvan gehoor nie? Alvorens die ou skuldig bevind is, kan hierdie media platform nie hom eksplisiet as ‘n ROWER uitmaak nie.

Frik ·

“Homself per ongeluk in die kuit geskiet” – jammer dit was nie ‘n bietjie hoër nie.

Tino ·

So die polisie kon nie eens n ou wat homself geskiet het vang nie,

Bloot geluk dat hulle hom met die aandklok reel gevang het.

Deon ·

Iets moet gedoen word, die kriminele is glad nie meer bang vir die polisie nie, “sien die polisie en begin op hulle skiet” Ek glo n persoon met n gesonde verstand sou sy weg probeer uit lieg het uit die situasie, of dalk probeer weghardloop of so iets… En ja, dit is uiters swak as die polisie nie eers ‘n gewonde man kan inhardloop nie. Dit laat mens wonder hoeveel hardloop dood eenvoudig net weg van die polisie.

Ria ·

Al die gebeure en onregverdighede in SA, het my in n onsimpatieke mens verander. Dus was my 1ste gedagte dat hy bietjie hoër moes mik

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.