Rower vas, een geskiet wat glo Universitas-studente teister

Universitas- akademiese hospitaal in Bloemfontein

Die polisie in Bloemfontein het een persoon in hegtenis geneem en ʼn vermeende rower doodgeskiet wat glo studente van Universitas geteister en beroof het.

Kol. Thandi Mbambo, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn student het Vrydagaand omstreeks 22:00 met sy vriende gesit en kuier by ʼn kommune in Stegmannstraat. “Drie gewapende mans het op die huis toegeslaan en hulle beveel om op die grond te lê.”

Die rowers het twee skootrekenaars uit die kombuis gesteel, en nog twee skootrekenaars en ʼn selfoon uit een van die studente se kamers gesteel. “Net toe hulle op die vlug wou slaan, het nog ʼn student uit sy kamer gekom en hulle het nóg twee skootrekenaars en sy selfoon gesteel,” het Mbambo verduidelik.

ʼn Provinsiale taakspan, wat reeds besig was om verskeie studentehuis-rooftogte te ondersoek, het leidrade opgevolg wat hulle tot ʼn huis in JB Mafora gelei het. “Die verdagtes is net ná 23:00 in ʼn huis aangetref waar een van hulle bly. Toe polisiebeamptes by die toneel opdaag, het een van die verdagtes ʼn vuurwapen te voorskyn gebring en polisiebeamptes het in reaksie op hom gevuur. Hy is noodlottig gewond.”

ʼn 31-jarige man is in hegtenis geneem, maar ʼn derde verdagte het ontsnap.

“Die polisie het die vermoedelik gesteelde eiendom gevind en ook beslag gelê op ʼn vuurwapen,” het Mbambo gesê.

Die 31-jarige man sal binnekort in die hof verskyn op aanklag van huisroof en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen. Die span is steeds op soek na die derde man.

Die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) sal die skietery ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

LR ·

Ek wens hierdie polisiemanne geluk. Dit wil voorkom asof daar n lig in die donker tonnel van misdaatbekamping begin skyn. Versnel asb hierdie aksie en raak so vinnig as moontlik van die koerupte polisiemanne ontslae.

D P J ·

NEE, een swaltjie maak nie ‘n somer nie.
Daar is nog te veel honderde misdaad wat nog ondersoeke word en nog geen oplosing voor gevind is nie.

Gemaskerde Sopbeen ·

Luister 5FM….hierdie is als deel van ‘n groter plan. Dis ontstellend wat die massas al hoe harder en harder en meer arrogant oop en bloot uitbassuin…..

Cherokee ·

Maak seker dat jou selefoon (vanmore die woord per abuis gebruik en nou klink dit ‘n lekker woord!) toegerus is met ‘n opspoor-sisteem en dat dit geaktiveer is en maak seker dat jy weet hoe dit werk. Waarskynlik is dit hoe die rowers vasgetrek is.

Staan op teen misdadigers ·

Mooi so polisie, en opod moet nie polisiemanne wat hulle werk doen terughou nie. Ons kan nie meer gevangene gehou en verniel word deur misdadigers nie. Misdadigers moet nie meer vryheid geniet ten koste van ons vryheid nie. Ons en die polisie moet saamstaan, gereed wees wanneer hulle toeslaan.

Johann ·

Waar in die wereld het jy al van so iets gehoor ? Gewapende rowers wat studente in hulle huise teister vir hulle fone en skootrekenaars ? Studente het meestal goedkoop fone en rekenaars. Wat vir n land is dit ?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.